Gallery Video
TUINROETE DISTRIKSNUUS EN VIDEO - Plant saadjies van hoop.
Dis die dringende boodskap van Jan Odendaal, die inspirasie agter die Sade van Hoop-projek.
Hiermee wil hy gemeenskappe inspireer om groente te plant en so selfversorgend te wees in ’n tyd waar voedselsekerheid deur die Covid-19 pandemie bedreig word.
“Die inperking bied ’n unieke geleentheid aan gesinne wat toegang tot water en grond het om ’n groetetuin-rewolusie te begin,” sê hy.
“Hongersnood is baie van ons mense se voorland. As ons gesinne kan inspireer om gedurende die krisis en die heropboutydperk hierna hul eie groente te produseer, sal almal daarby baat.”
Odendaal is ’n ou bekende in onderwys en hy kombineer sy liefde vir onderrig met sy passie om groen en gesond te leef. Hy bestuur die nie-winsgewende Lemon Tree-projek wat gesonde kos en eetgewoontes onderskryf, asook die Groen vir Lewe/Green for Life-projek, wat die belangrikheid van die volhoubare benutting van die natuur en water beklemtoon.
Hy raak opgewonde daaroor om ouers, kinders en grootouers, asook gemeenskaps- en kerkleiers, skoolhoofde en onderwysers betrokke te kry. “Hierdie sade van hoop, gesondheid en vriendskap kan en sal ons help om nuut na onsself, ons saamwees en gesondheid te kyk.”
Kyk 'n video hieronder:
Vir die projek het hy hande met Jacob Wiese van die Heleen Roots-stigting op Lutzville gevat. Die stigting is bekend vir sy onderneming om 365 bome gedurende 2020 aan te plant.
“Jong mense het hoop nodig. Wanneer hulle koeltebome op hul skoolterrein plant, kan ek die hoop in hul oë sien glinster.”
Dieselfde geld jong kinders wat groentesaad plant en dit sien ontkiem. “Die projek sal nie net opmaak vir kosbare gesinstyd wat tydens die gewone gejaagde lewe verlore gaan nie, maar kinders sal speel-speel ’n nuwe liefde en waardering vir die natuur ontwikkel. As hulle sien hoe die saadjies groei, sal hulle bewus raak van hoe groot die natuur en die Skepper daarvan is.”
Gaan so te werk
- Kies die regte plek vir jou tuin - die meeste groente het minstens ses tot agt ure direkte sonlig nodig.
- Jy het nie ’n groot stuk grond nodig nie - ’n planthouer in ’n sonnige hoek voor die agterdeur of op die balkon is groot genoeg om mee te begin.
- Berei die grond voor. As jy ’n houer gebruik, plaas klippies onderin om seker te maak die grond dreineer goed. Vul met potgrondmengsel of tuisgemaakte kompos, as jy het.
- Plant die saadjies. Lees die aanwysings op die pakkie wat die beste seisoen is om die groentesoort te plant en hoe diep die saadjies geplant moet word.
- Spuit versigtig nat sodat die saadjies klam bly, maar nie verspoel nie.
- Wanneer die plantjies opkom, kan jy hulle uitdun sodat die sterkeres oorbly en met meer spasie beter kan groei.
- Wees geduldig - die pakkie sal aandui hoe lank die saadjies neem om te ontkiem.
- Moenie moed verloor nie - jou geduld sal beloon word wanneer jy jou eerste groente oes.
Neem foto’s van elke stap en Whatsapp na Jacob Wiese by 072 842 2123 of stuur ’n e-pos na jacob@heleenrootsfoundation.co.za
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete Distriksnuus'