GEORGE NUUS - Vyf van die land se groot Afrikaanse sangers en Helpende Hand het 'n veldtog van stapel gestuur, genaamd Die Land Behoort Aan Jou, wat hand aan hand gaan met die bekendstelling van 'n liedjie, Die Land, gesing deur Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis, Bok van Blerk en Ruhan du Toit van Touch of Class.
Die land is op talle radiostasies se toptien treffersparade en op sommige ranglyste is dit selfs al die nommer 1-liedjie. Die musiekvideo is die afgelope Sondag vir die eerste keer op Jukebox op kykNET NOU vertoon.
Volgens Hofmeyr wil hy en sy medesangers met hierdie lied "die boodskap van hoop aan elke Suid-Afrikaner bring". "Dit gaan nie net oor die situasie waarin ons is nie, maar ook oor dít waarin ons glo en wat ons wil nalaat vir ons nageslag."
Volgens die organiseerders van Afrikaans is Groot, wil hulle landsburgers inspireer om in die land te bly en daarin te belê, "soos God se doel was met elke persoon wat Suid-Afrika sy tuiste noem".
"Met diep lirieke vanuit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer, bring die lied 'n gevoel van trots oor dit wat aan ons toevertrou is. Dit gaan selfondersoek van elke Suid-Afrikaner verg oor wat ons vir ons nageslag gaan nalaat."
Die liedjie kan as 'n luitoon op die webwerf, dielandbehoortaanjou.co.za, afgelaai word waar mense ook 'n plegbelofte kan aflê.
Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê met die plegbelofte onderneem elkeen "om sy vlag te waai en te bly saai in ons mooi land, Suid-Afrika".
"Die embleem dien as 'n herinnering dat, soos die vlag bly wapper, die liefde vir ons land ook sal bly staan. Dat, al verloor ons alles, niemand van ons kan wegneem wat God vir ons gegee het nie en dit is wat ons vir ons nageslag wil nalaat."
Buiten die plakkers, het Helpende Hand ook talle vlae laat maak wat na die organisasie se takke landswyd versprei gaan word.
Volgens Noëth kan mense hul familiename op die vlae skryf. Hulle wil al die getekende vlae in November na Pretoria terugneem om dit by die Afrikaans Is Groot-konserte te laat wapper.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'