Volgens prof. Deon Pretorius, professor in sosiologie en ontwikkelingstudies aan die NMMU in Port Elizabeth, het die land ernstige sosiologiese "foutlyne" weens politici wat gewoonlik "die laaste sê het".
Hy het onlangs as gasspreker by Arbeidsbediening se jaarlikse gala-aand by die Down to Earth-restaurant opgetree.
Pretorius het gesê dit is te maklik om 'n politieke figuur te word.
"Enigiemand kan die president word en ek is bekommerd dat ander sfere van die samelewing die stand van sake net goedsmoeds aanvaar. Ons moet ophou dink dat die politiek die bopunt en die res van ons ondergeskik is."
Hy het gewaarsku dat oorweldigende politieke mag alle vlakke van die samelewing raak en baie keer verhoed dat ontwikkelingsprojekte in gemeenskappe effektief geïmplementeer word. "Opheffingsprogramme, wat dringend nodig is, ontaard meestal in 'n politieke geveg."
Die politieke oormag moet "teruggestoot" word, nie deur nog 'n nuwe politieke party soos die EFF nie, maar deur sinvolle gesprekvoering en besluitneming.
Hy het verwys na die rol wat die kerk, veral die Anglikaanse kerk, in die 80's en vroeë 90's gespeel het om verandering teweeg te bring en gesê dit het vervaag. "Hulle was baie aktief. Waar is hulle nou?"
Besigheid het ook, benewens sy primêre doel van besigheid, 'n sekondêre rol van medeverantwoordelikheid vir die breë samelewing en sosiale opheffing. Hulle moet die voortou neem met die sluit van vennootskappe om ontwikkelingsinisiatiewe, veral op plaaslike vlak, te bevorder.
"Ons het werkbare planne nodig om mense op te hef."
Die vorming van heterogene sosiale netwerke en interaksie onder die verskillende groepe van die bevolking is ook 'n voorvereiste vir die herstel van die "foutlyne" in die land.
Toekennings
Die aand is afgesluit met die oorhandiging van toekennings aan sakeondernemings wat Arbeidsbediening se doelstellings ten beste bevorder.
In die afdeling vir kleinsakeondernemings het toekennings gegaan aan Touw Meubels, Cape Feed and Grain van Riversdal en Meyer von Wielligh (trofeewenner); in die afdeling vir mediumgrootte sakeondernemings het Cape Feed and Grain George en Der Lederhändler (trofeewenner) erkenning gekry; en in die groot sakeondernemingsafdeling was Watson's Slaghuis die trofeewenner.
* South Africa has serious sociological 'fault lines' because the political system is overpowering all other spheres of society, according to Deon Pretorius, professor in sociology and development studies at the NMMU. This skewed state of affairs is blithely accepted by most South Africans, which does not promote progress and development.
Van die presteerders is van links, Christo Kotze (Cape Feed and Grain George), pastoor Andrew Adams (Cape Feed and Grain Riversdal) en Lenn Clark (Touw Meubels).
Trofees is oorhandig aan, van links: Cathrin Fourie van Meyer von Wielligh, Maresa Kotze van Der Lederhändler en Coenie Stander van Watson's Slaghuis.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'