GEORGE NUUS - Inwoners van Denneoord is ontstoke en geskok ná Scar, 'n bobbejaanmannetjie wat gereeld in dié omgewing besoek afgelê het, Maandagoggend 28 Junie doodgeskiet is.
Volgens Annelie Strauss, wat ook in Denneoord woon, was Scar 'n rustige bobbejaan wat gereeld tussen Biesielaan en Dassiestraat beweeg het.
"Hy het sy naam gekry oor die letsel op sy skouer. Hy het nie regtig teruggegaan bos toe nie en het soms groente en vrugte uit mense se tuine gesteel, maar hy het nooit 'n huis betree of enige aggressie getoon nie. Ons was almal nogal erg oor hom omdat hy juis nie gevaarlik was nie," sê sy.
Scar se liggaam is Maandagoggend omstreeks 08:30 op Lluwellyn Nuwegeld se erf in Biesielaan gevind. Hy het 'n skietwond aan sy bors in die omgewing van sy hart gehad.
Nuwegeld sê hy en sy vrou is bitter ontsteld oor die onverskillige manier waarop Scar doodgemaak is. Volgens hulle was Scar 'n onskuldige dier wat gereeld hul erf besoek het. "Veral op Sondaemiddae, amper asof hy vir middagete gekom het," vertel Nuwegeld.
"Hy het sy plekkie op ons dak gehad waar hy gereeld gesit het en sou nou en dan afkom om van die nartjies in ons tuin te pluk. Hy het niemand gepla nie en ons was nie bang vir hom nie. Dis vir ons bitter ontstellend dat iemand gevoel het dis nodig om hom dood te maak."
Nuwegeld sê hy en sy vrou was albei by die huis toe sy hom roep om te sê daar lê 'n bobbejaan op hul grasperk. Hy was besig met 'n aanlynvergadering en het oorfone aangehad, maar sê sy vrou het geen geweerskote gehoor nie. "Sy liggaam was nog warm en hy het 'n pekanneut in sy mond gehad," vertel Nuwegeld.
Kommer onder inwoners
Wat vir baie inwoners egter uiters kommerwekkend is, is die kaliber wapen wat glo gebruik is om Scar van kant te maak. "Niemand het 'n skoot gehoor nie, wat beteken die skieter het 'n knaldemper op sy wapen. Dit is 'n hartskoot. Nie enige leek gaan 'n hartskoot per ongeluk skiet nie," sê Strauss.
'n Inwoner wat verkies om anoniem te bly vertel dat dit 'n klein wond gelos het met min bloed.
"Die koeël is dwarsdeur die bobbejaan en die patroon kon nog nie opgespoor word nie. Wie ook al geskiet het, het nie 'n klein kaliber wapen gebruik nie. En dit in 'n woonbuurt. Die persoon het duidelik nie in ag geneem waar die koeël kon beland of wie anders dit kon tref nie," sê die inwoner.
Wetstoepassing is geskakel om Scar se liggaam te verwyder waarna dit vir 'n outopsie gestuur is. Die outopsie het bevestig dat Scar beslis geskiet is.
In 2014 is 'n sewejarige Deense hond (Great Dane) ook in die omgewing met 'n jaggeweer doodgeskiet.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'