Gallery
RUBRIEK - Daar was die keer, baie jare gelede by die Kremlin in die hartjie van Moskou, toe ek vroeg op 'n koue Maandagoggend in sneeureën trane in my oë gekry het.
Dit was in November 1998 toe die destydse adjunk-president, Thabo Mbeki, op 'n amptelike besoek aan Rusland was en hy 'n krans by die Graf van die Onbekende Soldaat, gelê het. As joernalis was ek deel van 'n mediagroep wat saam met Mbeki in Rusland was.
Dit was bitter koud en terwyl die sneeureën neergesif het, is Suid-Afrika en Rusland se volksliedere gespeel. My oë was nat en dit was nie net van die sneeureën nie. So baie dinge het deur my kop gegaan.
FOTOGALERY: Tweede stem: Trane in my oë
Dit was vreemd om Die Stem as deel van Suid-Afrika se volkslied by die Kremlin te hoor. 'n Paar jaar vroeër het ek nog militêre diensplig in die vorige politieke bedeling gedoen, terwyl die "Rooi gevaar" voorgehou is as 'n groot motivering om duisende jong mans op te kommandeer.
Boonop was ek daardie oggend in die teenwoordigheid van Mbeki, 'n prominente ANC-lid wat in die vorige politieke bedeling, 'n verbode persoon was.
Daardie oggend en die paar dae daar in Rusland, het 'n onuitwisbare indruk op my gemaak. Dit het tot 'n groot mate my indrukke van Rusland gevestig. Dit was soos 'n rolprent en talle gebeure het onwerklik gevoel.
Eugene Gunning op die Rooiplein in November 1998.
Om net 'n paar te noem. 'n Besoek aan die indrukwekkende Rooiplein. Ook 'n besoek aan die mausoleum waar Lenin gelê het en die Russiese soldate amper histeries geraak het toe ek gaan stilstaan om na hom te kyk.
'n Besoek aan die Bolshoi-teater waar die hamer en sekel embleem van die Sowjet-era nog op die gordyne sigbaar was. Daar was hoendervleis op my vel toe die groot mars uit Aida gespeel is.
'n Vinnige middagete by McDonald's waar die mediagroep se tolk en ek alleen by dieselfde tafel beland het. Hy, wat in sy vorige loopbaan, deel van die land se geheime dienste was en later 'n Christen geword het. Daar in die middel van Moskou het hy gevra of hy vir ons 'n dankgebed vir die kos kon doen.
Mbeki, wat tydens 'n ontbyt vir lede van die media op my vraag of hy Russies kan praat met 'n vonkeling in die oog geantwoord het: "Neyt" (Nee).
Daar was ook 'n besoek aan die Universiteit van Moskou waar ek 'n Afrikaanse klas van nagraadse studente bygewoon het. Dit was net 'n paar blokke van die Rooiplein en die Kremlin. In vraetyd het 'n jong Russiese student my uitgeboul. Ek het 'n politieke vraag verwag en toe vra hy of ek vir hulle 'n tipiese Afrikaanse grap kan vertel. Oorbluf het ek weggetrek met 'n Van der Merwe-grap.
'n Dosent van die universiteit het my bietjie rondgewys in Moskou en selfs gaan wys waar die gevreesde KGB voorheen gehuisves was.
'n Ontmoeting met prof. Apollon B. Davidson, wat ek in die 80's as 'n joernalis 'n onderhoud mee gevoer het by Sowjetunie se ambassade in Maseru in Lesotho. Davidson het destyds die ambassade besoek. Om weer met mekaar in Moskou te gesels, duisende kilometer van Maseru in 'n ander wêreldsituasie en -orde, was besonders.
Die beeldskone Russiese vroue wat stap op die sypaadjies in die bitter koue en nie oogkontak maak nie. Later terug in Suid-Afrika en nou nog na al die jare, "kyk" ek oor en oor na die "rolprent" in my geheue.
So byna twee weke gelede het Rusland opnuut my aandag getrek en weer trane in my oë gebring. Hartverskeurende tonele op televisie wat in die Oekraïne en omliggende gebiede afspeel. Kinders wat grootoog vir TV-kameras kyk, grootmense wat dapper probeer wees, mense wat met hul troeteldiere vlug en 'n vrou wat padgee met 'n rugsak op haar rug (dit was vir toe haar lewe/besittings).
En dit was alles nie as gevolg van 'n natuurramp soos 'n aardbewing nie. Dit was omdat die oud-KGB-man, wat deesdae die septer in die Kremlin swaai, so besluit het. (Lees Rusland se inval in die Oekraïne). Daar by die Kremlin waar ek daardie Maandagoggend gestaan het.
Eugene Gunning voor die Bolshoi-theater.
Gou het ek besef die trane van nou is anders as van daardie oggend by die Kremlin. Destyds was dit trane van ironie en selfs verligting - die sirkel was voltooi. Die trane van nou is van diepe meegevoel en vreemd genoeg ook van hoop. Die tonele op televisie vertel van hartseer en verwoesting, maar dit vertel ook van omgee. Ek sien hoe mense in tye van krisis saamstaan en mekaar help. Daar is nog hoop in ons deurmekaar wêreld.
Die kranslegging by die graf van die onbekende soldaat by die Kremlin, Moskou. Foto: Eugene Gunning, Rapport
Adj.pres. Thabo Mbeki lê 'n krans by die graf van die onbekende soldaat by die Kremlin, Moskou. Foto: Eugene Gunning, Rapport
In die hartjie van Moskou met die sneeu wat dik lê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'