RUBRIEK: Toe ek die oorverdowende slag hoor, het ek geweet ek is weer terug in my grootword wêreld. Die donderweer op die laat Vrydagmiddag by die OR Thambo-lughawe in Gauteng was vir my soos 'n kanonsaluut tydens 'n staatsbesoek. Dit het my welkom laat voel.
Ek was in Gauteng, in my kinderdae Transvaal, vir 'n kort werks- en persoonlike besoek.
In die volgende 48 uur sou ek by tye teruggestap in die verlede en weer beleef hoekom mens soms moet terugbeweeg sodat jy vorentoe kan beweeg.
Met die amptelike verpligtinge Vrydagaand afgehandel, kom haal my familie my vroeg Saterdagoggend by 'n hotel- en konferensensiesentrum in Boksburg naby die lughawe.
In die motor oppad na my familie se woonplek verwonder ek my aan al die geboue en winkelsentrums. Die deel van die land is beslis die ekonomiese hartland van Suid-Afrika. Dis Saterdag en die verkeer vloei. Ek wonder hoe die verkeer lyk op 'n weeksdag.
Later, op my versoek, neem my familie my na die omgewing waar ek as kind grootgeword het. Die bekende straat lyk soos 'n perstapyt van al die Jakkaranda-blomme.
My familie kan nie glo toe ek die klokkie by die huis gaan lui waar ons destyds gewoon het nie. Hulle waarsku my nog: “Dis Gauteng dié. Die mense gaan dink jy het duister motiewe en gaan die polisie bel.”
Maar hul bekommernis is puur verniet. Een van die huisbewoners nooi my binne en vra dat my familie moet saamkom. My suster en ek stap die huis binne. In die sitkamer wil-wil die emosie my oorweldig. Ek het byna 50 jaar laas daar gestaan. Ek kyk na die kaggel.
Daar waar ek as klein seuntjie geglo het vader Kersfees klim deur die skoorsteen om ons geskenke af te lewer. Daar in die sitkamer waar ek saans op die mat gelê het en na die aandgodsdiens, die nuus en vervolgverhaal op die radio saam met my ouers en suster geluister het.
Dieselfde sitkamer waar Beyers Naude as predikant van die Aasvoëlkop NG-gemeente by ons besoek afgelê het.
Buite in die agterplaas gaan kyk ek waar die wasgoedpale destyds gestaan het. Daar het ek op 'n keer hard aarde toe gekom omdat my kinderlike geloof in my eie vermoëns groter was as die realiteit.
My ma het ons sirkus toe gevat en terug by die huis wou ek op die wasgoedlyndrade loop soos die mense in die sirkus. My suster het nog 'n driewielfietsie vasgehou en ek het geklim…. Die uiteinde: 'n gebreekte arm.
Ek gaan na een van die badkamers. Daar waar my pa soggens voor skool my hare gekam het en Brylcreem in my hare gevryf het terwyl hy na Fanus Rautenbach se program, Flink uit die vere, geluister het.
Ons vertrek na 'n speelparkie 'n paar blokke verder. Die “slagveld” waar ons, die Afrikaanse en die Engelse kinders gereeld die Boereoorlog oorgeveg het. Ons het skoor gesoek met mekaar en gereeld gestry oor wie eerste was by die swaaie.
Volgende stop - die kerk. Dieselfde kerk waar einste Beyers Naude sy destydse laaste preek gelewer het. Nadat hy en die NG-kerk swaarde gekruis het oor die apartheidsbeleid, het hy bedank.
Ironies genoeg is die bekende DF Malanrylaan, net 'n paar blokke verder, baie jare later hernoem na Naude.
Die kerk waar ek liggies aan my ouers gestamp het as die beroemde Fanus Rautenbach en sy vrou voor die diens die kerk binnegestap het. Ek het dan gefluister: “Hier is Fanus.”
Sondag, 'n paar uur voor ek terugkeer na George, maak ek 'n draai by die skole waar ek was. Dit bring gemengde gevoelens. Die laerskool waar die ander kinders goue sterretjies gekry het vir handskrif en ek groenes.
Die hoërskool waar die biologie-onderwyser my later nie meer wou slaan as ek te swak gedoen het in toetse nie. Eendag toe ek weer die enigste is wat moes agterbly na 'n toets, het hy net gesê: “Gaan sê maar vir die ander kinders ek het jou geslaan.”
Laat Sondagmiddag keer ek terug na George. Baie dinge gaan deur my gedagtes. 'n Naweek van lang paaie reis in die verlede en nou wag die realiteit – môre, oormôre en die toekoms.
In die vliegtuig wens ek die vlieëniers wil vinniger wil vlieg. Ek wil in George kom waar my honde is. Dit laat my aan die oudae dink toe ons as familie na die binneland teruggekeer het na 'n heerlike vakansie by die see. My pa moes ry en by die huis kom sodat ons later die honde kon sien.
Vroegaand land die vliegtuig op George-lughawe. Dis koel bewolk en reën dreig. En sowaar! Buite op die aanloopbaan op pad na die lughawe-gebou, terwyl die eerste reëndruppels val, is daar oorverdowende donderweer - nogal in die Suid-Kaap. Welkom tuis! Ek is geïnspireerd na 'n besoek aan die verlede.
Reg om weer vorentoe te beweeg. Hier in ons geliefde George aan die voet van die Outeniquaberge.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'