RUBRIEK - Uitbundige vreugde en diepe hartseer skaars 'n paar tree van mekaar. Dit het ek vroeg Saterdagaand, 8 Oktober, by Outeniquapark aan die voet van die Outeniquaberge beleef.
Dit het my opnuut laat besef hoe dinge in die lewe dikwels in tweë uitspeel in teenpole.
Die afgelope paar jaar het hierdie groot lewenswaarheid by my begin posvat. Neem nou maar byvoorbeeld: goed en sleg, gesond en siek, sterk en swak, wen en verloor, groot en klein, lank en kort, aantreklik en minder aantreklik en talle ander. Maar daar is ook baie dinge in een, soos gemene delers.
Ek het iets daarvan Saterdag beleef - uit die aard van my werk en ook op 'n persoonlike vlak.
Maar kom ek gaan haal dit om te begin, buite Outeniquapark. Dit was my voorreg om in die verlede al dikwels daar te kom. Ek kon indrukwekkende rugbywedstryde daar aanskou en ook heerlike atmosfeer beleef.
In die aanloop tot Saterdag se SWD-klubkompetisie finale het mense vir my gesê dis gewoonlik iets besonders. Ek was nog nooit voorheen by die geleentheid nie.
Vroeg Saterdagmiddag, sommer met my aankoms het ek reeds besef dis 'n besondere geleentheid. Dit was soos 'n rugbytoetswedstryd. Wonderlike atmosfeer en veral afwagting vir die hoofwedstryd tussen Heidelberg en Crusaders het geheers.
Daar was baie toeskouers en beide spanne het heelwat ondersteuning gehad. Toe die spanne uiteindelik opdraf wou mens nêrens anders wees as op Outeniquapark nie. Eers is die land se volkslied gespeel.
Ek het op die veld reg voor die hoofpaviljoen gestaan en 'n video gemaak. Om die toeskouers uit volle bors te sien en te hoor sing, was 'n onthou-belewenis.
Toe kom die afskop en ongelukkig kon daar uiteindelik net een wenner wees - lees wen en verloor. Dit was 'n goeie, harde wedstryd. Teen rustyd kon dit nog enige kant toe gaan. Die tweede helfte was maak of breek vir beide spanne en hulle het alles gegee.
Kort voor die eindfluitjie geblaas het, was dit duidelik dat Crusaders in hul rooi truie die knoop gaan deurhaak. Maar min mense het in daardie stadium geweet van die tragedie wat besig was om langs die veld te ontvou.
Toe die eindfluitjie blaas het uitbundige tonele van vreugde afgespeel. Crusaders se ondersteuners het op die veld gehardloop. Hulle het gesing en gedans om die wen te vier.
Langs die veld het tragiese nuus vir Heidelberg gewag. Een van hul spelers se pa is kort tevore langs die veld oorlede.
Op die veld het Crusaders partytjie gehou sonder dat hulle bewus was van die hartseer skaars 'n paar tree verder. Vir sommige van die toeskouers was dit 'n dag van vreugde en vir ander 'n dag van hartseer.
Vroegaand toe ek die stadion verlaat, het die partytjie(s) nog voortgegaan. Ander was hartseer en op pad terug Heidelberg toe.
Later die aand by die huis, het die twee teenpole van die lewe waarmee ons daagliks te doen kry, weer by my opgekom, maar ook die algemene raakpunte en gemene delers. Aan die einde van die dag wil ons almal gelukkig wees, vrede beleef en berusting vind. Ons is uiteindelik almal maar net mense.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'