RUBRIEK - Stel jou voor: Jy sit langs 'n kabbelende waterstroom diep in die Knysnabos. Jy drink appelkoeldrank en eet melktert en vars vye. Die son blink in die water en die skoon reuk van die bos betower jou.
Vir alle praktiese doeleindes is jy afgesluit van die buitewêreld. Daar is vrede in jou gemoed. Al weet jy dis nie moontlik nie, wens jy dit hou vir altyd aan.
Na 'n rukkie gaan stap jy 'n entjie. Jy vergaap jou aan die asemrowende, digte plantegroei. Wat skuil agter al die groen? Dis soos geheime wat net wag en roep om ontdek en onthul te word.
Ek het dié wonderlike ervaring voor verlede week beleef, en al was ek dié dag 'n jaar ouer, was dit pure vreugde wat ek altyd sal onthou. 'n Vriendin en ek het die dag 'n draai in die bos gaan maak.
Op pad daarheen is ons egter aan een van die hartseerste gebeure ooit in ons land se geskiedenis herinner. By Kasat se drif het ons stadiger gery, want dis hier waar 'n bus op 24 Augustus 2011 in die water beland het.
Die busbestuurder en 14 kinders het verdrink. Ek was daardie dag kort na die tragedie daar en my gedagtes het onwillekeurig teruggegaan.
By die waterstroom diep in die bos het ons gaan sit en 'n diepe vrede beleef ondanks die herinnering aan die ramp.
Later ry ons 'n draai na waar 'n klomp van die gestorwe kinders in dieselfde straat gewoon het. Ek was destyds ook daar. As dié straat kon praat …
Dit lyk asof Vader Tyd lelik met die huise gewerskaf het. Van die huise is erg verwaarloos. Van hulle staan leeg en vensters is gebreek. Van die deurkosyne is weg.
Die gras is lank en die pad is moeilik begaanbaar. Ons hoor 'n hond blaf en 'n haan kraai. By een van die huise sien ons 'n motor. Van die huise se gordyne is toegetrek. Waar ons nie meer verder kan ry nie, draai ons om. Op pad terug sien ons 'n man voor 'n huis. Ek ry stadiger en hy staan nader. Ek draai die venster oop en ons begin gesels.
Ek vra oor die ramp en hy vertel dat van sy geliefdes daarin gesterf het. Hulle sou nou al groot gewees het. Ek hoor sy frustrasie. Dat dit voel of almal van hulle vergeet het.
Later keer ons terug George toe. Na ons eie werklikheid.
In die dae daarna dink ek baie aan die besoek. Aan die vrede in die bos en ook die destydse ramp. Dis 'n worsteling. Amper soos: "Eugene, dis die teenpole van die lewe. Teenspoed - lees ramp. Voorspoed - lees vrede."
'n Paar dae later is ek by Outeniquapark om verslag te doen oor 'n rugbywedstryd. Ek mik met my kamera en soek na moontlike foto's. Die spelers is naby die noordelike doellyn. Ek kyk op en sien dan hoog teen die berg die verligte kruis, maar dis nie so duidelik nie. Daar is te veel ligte hier onder.
Kort voor 20:00 ry ek huis toe. Dan raak alles donker. Dis beurtkrag. Om die donker te verdryf, besluit ek om te stop in Courtenaystraat vir genotskos. Die tou by die plek is te lank en ek ry aan na die groot winkelsentrum aan die oostelike kant van George. Die tou is korter.
Hier en daar is ligte, maar dis nog steeds baie donker. Dit pla my nie, want ek het mos my genotskos.
En dan, terwyl ek huis toe ry, sien ek in die donker teen die berg die nou helder verligte kruis.
Soms moet dit eers donker word, voor jy die Lig kan sien.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'