GEORGE NUUS - Hope vullis en gemors is Dinsdagmiddag in Rosemoor se strate aan die brand gesteek. Die protesaksie het 'n blokkasie op die Go George-busroetes veroorsaak.
Volgens gemeenskapsleiers hou die protesaksie verband met ontevredenheid oor onwettige vullisstorting op 'n spesifieke stuk grond, asook bewerings dat die munisipaliteit nie genoeg daar skoonmaak nie.
Waarnemende direkteur van beskermingsdienste, Lee-Anne Meiring, het die area besoek en die relevante departemente oor die klagtes ingelig. Sy het gemeenskapsleiers genooi om die aangeleentheid gister, Woensdag 30 September, by haar kantoor verder te bespreek.
"Die brandweer was ook op die toneel en het die brande in die straat geblus, maar ander brande is op 'n oop stuk grond in Beerstraat gestig waar daar gereeld onwettige storting plaasvind, en klippe is na brandweervoertuie gegooi," het munisipale mediabeampte, Athane Scholtz, gesê.
"Die brandweer en munisipale beamptes het uit die gebied onttrek aangesien die publieke orde polisie (Pops) nie beskikbaar was nie, en die personeel en eiendom nie verder blootgestel kon wees nie. Die munisipaliteit herinner die publiek dat beskadiging van munisipale infrastruktuur en eiendom soos paaie en voertuie in 'n ernstige lig beskou word en dat dit nie geduld sal word nie."
Vullis is Dinsdagmiddag in Rosemoor se strate gebrand.
Volgens die direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, word onwettige stortingsgebiede volgens 'n skedule skoongemaak, soos fondse daarvoor beskikbaar is.
"Die munisipaliteit dring egter daarop aan dat al hierdie gebiede weekliks vullisverwydersdienste het, en dat, as gemeenskappe hulle vullis by hul huise hou en uitsit op hulle gewone verwyderingsdae (in die geval van Rosemoor is dit Dinsdae), 'n groot persentasie van onwettige storting nie sou plaasvind nie," het hy gesê.
"Daar word egter binnekort ook 'skips' in sekere brandpuntgebiede geplaas om die probleem gedeeltelik op te los, maar gemeenskappe dra ook 'n verantwoordelikheid om nie onwettig te stort nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'