GEORGE NUUS - Toenemende gevalle van kabeldiefstal in die Rosedale-plakkerskamp laat inwoners met meer probleme as 'n gebrek aan elektrisiteit.
Volgens John Hendriks, 'n gemeenskaps-leier in dié buurt, lei kabeldief-stal tot meer inbrake en wonings word gereeld deur rampokkers gestroop.
Hy sê inwoners wat van elektrisiteit afhanklik is, moet elders blyplek soek tot herstelwerk aan die kabels gedoen word, en dit kan soms weke neem.
"Die mense sluit hul wonings, maar as daar niemand is nie, word daar ingebreek en die bietjie wat daar is, word gesteel. Tussen Eskom en die kabeldiewe is ons byna permanent in die donker. Kabels word so te sê elke aand gesteel en die munisipaliteit kan nie bybly met herstelwerk nie.
"Dit veroorsaak dat die kos in ons yskaste vrot. Ouers kan nie hulle kinders se melk warm maak nie en hier is gestremdes en bejaardes wat al weke lank sonder elektrisiteit sit. As die krag afgaan, word die skollie-elemente wakker," sê hy.
Hendriks sê ook die gebrek aan elektrisiteit veroorsaak gereeld dat strukture afbrand omdat inwoners genoop word om kerse, gasstofies en paraffienlampe te gebruik vir beligting, hitte en om kos voor te berei.
In 'n poging om kabeldiefstal in die omgewing vas te vat, het Hendriks saam met ander inwoners van Rosedale 'n WhatsApp-groep gestig om kabeldiefstal en ander ongerymdhede te rapporteer.
Polisie 'nêrens'
"Ons sukkel met 'n gebrek aan sigbare polisiëring. Ons rapporteer die voorvalle by ons polisie, maar dit voel nie juis asof daar aandag aan geskenk word nie. Pacaltsdorp het oor die laaste paar jaar vreeslik uitgebrei en die nood vir 'n satelietstasie hier raak nou groot," sê Hendriks.
Volgens Pacaltsdorp-gemeenskaps-polisiëringsforum se voorsitter, Charly Daman, is kabeldiefstal 'n enorme probleem in die Rosedale-gebied.
"Ons sit met 'n helse probleem. Die buurt-wagte vang soms die verdagtes, maar dan is daar onduidelikheid oor wie die klaers moet wees in die saak. Die uitkenning van die kabels om vas te stel aan wie die kabels behoort, Telkom, Eskom of die munisipaliteit, veroorsaak ook 'n groot probleem.
"Die kabels word gereeld gekap en om dit te vervang kos 'n hele paar rand wat uit die belastingbetaler se sak moet kom. Die ander probleem is dat die kabels by skrootwerwe in die omgewing verkoop word en daar nie daadwerklik teenoor dié besighede opgetree word nie," sê hy.
Teen druktyd het die polisie nog nie op navrae hieroor gereageer nie.
Wonings word gereeld geplunder.
Munisipaliteit bevestig toename
Ntobeko Mangqwengqwe, senior kommunikasiebeampte by die George-munisipaliteit, het die toename in kabeldiefstal bevestig en gesê die elektrotegniese-afdeling ervaar sedert laat verlede jaar 'n toename in die Rosedale-gebied.
"Verskeie sake van kabeldiefstal is by die Pacaltsdorp-polisie aanhangig gemaak, waar lede van die publiek met kabels wat aan die munisipaliteit behoort, aangekeer is. Die elektrotegniese-afdeling rapporteer die voorvalle soos hulle plaasvind aan die betrokke owerhede, wat wetstoepassing en die polisie insluit," sê hy.
Volgens Mangqwengqwe prioritiseer hulle herstelwerk, maar dit neem soms lank weens die toenemende en herhaalde diefstal in dié gebied. In die verlede was daar al tot drie keer herhaaldelik kabels by een woning geknip en gesteel wat daartoe gelei het dat die munisipaliteit hierdie kabels herhaaldelik by dieselfde eiendom moes vervang.
"Die groot aanvraag vir kabels in ons bedryf beïnvloed ook die omkeertyd vir herstelwerk aangesien ons soms materiaal van diensverskaffers moet bestel en daarvoor moet wag," sê Mangqwengqwe.
Die munisipaliteit versoek die gemeenskap om hulle te help om kabeldiefstal hok te slaan, en sodoende die infrastruktuur te beskerm.
Onwettige verbindings kan by 044 801 9222/044 803 9222 of 044 801 6300 (na ure) gerapporteer word. Persone wat hulself skuldig maak aan onwettige verbindings, kan ook by 0860 044 044, SAPD 10111 gerapporteer word.
Kragbokse word oopgebreek sodat diewe toegang tot kabels kan verkry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'