GEORGE NUUS - Inwoners van Rosedale en lede van die Rosedale-buurtwag was Sondagmiddag baie ongelukkig omdat die polisie nie by 'n vergadering opgedaag het nie.
Volgens die organiseerders het die polisie wel vroeër aangedui dat hulle die vergadering sou bywoon aangesien samewerking tussen die buurtwag en polisie hoog op die agenda was.
Benewens die bestuur van die buurtwag en gemeenskapslede het Edmund Busack, stadsraadslid vir wyk 14 ook die vergadering bygewoon. Hy was die stigter van die buurtwag.
Die moontlikheid is selfs geopper dat die buurtwag later 'n protesoptog na die Pacaltsdorp-polisiekantoor kan hou as hulle nie bevredigende antwoorde kry nie. Die vergadering het na 15:00 begin sonder dat die polisie teenwoordig was.
John Pato, voorsitter van die buurtwag, het in sy verwelkoming gesê dit gaan oor niks anders as die veiligheid van die gemeenskap nie. Volgens hom sukkel die buurtwag om die nodige akkreditasie te kry. Hy het ook gesê die polisie was genooi, maar het nie opgedaag nie. Die ondersteuning van die polisie is nie 100% nie.
Die buurtwag wil nie teen die polisie werk nie. Hulle is die oë en ore van die polisie op die grond. Die buurtwag probeer keer dat 'n situasie soos in Kaapstad ontstaan waar dinge buite beheer geraak het en die weermag se hulp ingeroep is.
Elroy Ruiters, 'n organiseerder van die buurtwag het aan die George Herald gesê die polisie gee nie hul samewerking nie.
John Bruinders, sekretaris van die buurtwag, het gesê misdaad raak almal en dit spaar niemand nie. Hy het benadruk dit gaan nie daaroor om die polisie aan te vat nie. Bruinders het gesê die buurtwag help van 2017 om misdaad in die gebied te bekamp. Dis 'n sensitiewe tyd vir Rosedale. Misdaad sluit in aanrandings, seksuele misdade, huishoudelike geweld en rooftogte. Soms kom bendes selfs van buite na die gebied.
Die buurtwag is in gesprek met die polisie in Pacaltsdorp. "Ons het hul ondersteuning nodig."
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die buurtwag is 'n belangrike komponent en hulpmiddel om misdaad suksesvol binne die gemeenskappe hok te slaan en te monitor.
"Ons ag ook hul bydrae as waardevol, daarom word die aantygings dat ons nie by die vergadering teenwoordig was nie, in 'n baie ernstige lig beskou en sal dit definitief van die gebiedskantoor opgevolg word.
"Die aangeleentheid is ook onder die aandag van die stasiebevelvoerder gebring om die nodige voorlopige ondersoek te doen na die aantygings wat gemaak word."
"Ons sal binnekort vanaf Pacaltsdorp-polisie met die Rosedale-buurtwag en organiseerders skakel om misverstande uit die weg te ruim en sinvol oor toekomstige samewerking te praat."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'