GEORGE NUUS - Wanneer die veteraan-motors wat die afgelope paar dae aan die jaarlikse Rondomtalie-toer deelneem vandag terug in George is, sal hulle 1500 km afgelê het en deur verskeie bergpasse in die Wes-Kaap gery het. Dit wys dat die ou motors vir niks terugstaan nie.
Die eerste twee motors, 'n 1914 Model T Ford en 'n 1926 Model T Ford het verlede Donderdag, 1 Februarie, uit George na Groot-Brakrivier vertrek waar nog drie ander motors by hulle aangesluit het. Uiteindelik het verskeie motors aan die toer deelgeneem.
Hul aankoms more val saam met die George-oumotorskou wat more Saterdag en Sondag by HTS Eden plaasvind.
Phillip Rosser was agter die stuur van die 1926 model en saam met hom was sy eggenoot, Amanda.
Philip Kuschke het die stuurstang vasgevat van die 1914 model en hy is vergesel van sy eggenoot, Rosita.
Dit is die derde keer dat die Rondomtalie-toer plaasvind.
Hulle het Donderdagaand oornag in Barrydale.Vrydag het hulle koers gekies na die Paarl waar hulle oornag het.
Saterdag 3 Februarie het hulle die Heritage Race by Killarney in Kaapstad bygewoon en Sondag het hulle deelgeneem aan 'n geleentheid in Kalkbaai.
Maandag het hulle deur Bainskloof na Slanghoek gery waar hulle twee dae in die omgewing deurgebring het.
Woensdag 7 Februarie het hulle na Barrydale vertrek en vandag ry hulle van Barrydale na Calitzdorp.
In Calitzdorp sluit hulle by die Vetttoer aan. Daar is 25 deelnemers aan die toer, waarvan ses motorfietse is.
Hulle sal na verwagting teen 14:00/15:00 in George arriveer by HTS Eden.
Rosser en Kuschke was dit eens dat hulle dit aanpak omdat hulle 'n passie vir ou motors het.
Kuschke gesê een van die die redes vir die toer is bewusmaking van die George-oumotorskou.
Hy het Maandag vertel dat alles goed verloop het en daar was tot in daardie stadium geen teenspoed nie.
Hulle toer het langs die pad reeds baie aandag getrek. "Oral waar ons gery het, het mense gewaai en geglimlag."
Die hekke vir die George-oumotorskou open Saterdag en Sondag om 8:00. Op Saterdag is dit oop tot 18:00 en Sondag tot 14:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’