GEORGE NUUS - Dele van een van Suid-Afrika se geskiedkundigste passe, die Montagupas net buite George, het tydens die inperking ontaard in 'n gewilde stortingsterrein.
Dis veral dele naby die tolhuis waar rommel gestort word. Dit is baie naby aan die pad en dit lyk of die skuldiges nie eers baie moeite doen om van hul rommel ontslae te raak nie.
Die pas is in 1847 voltooi en die tolhuis is meer as 170 jaar oud.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het Dinsdag haar skok oor die situasie uitgespreek. Volgens haar, het dit nieteenstaande die inperking, die afgelope tyd toegeneem. Sy het sowat drie weke gelede die eerste keer begin sien dat rommel daar gestort word.
"Dit lyk of mense sommer net rommel langs die pad aflaai. Dis op verskeie plekke en ook in die omgewing van die tolhuis. Dit neem daagliks toe. Ek het nog nooit gesien wie dit doen nie en dis moeilik om te bepaal wanneer dit gebeur. Elke keer as ek daar kom, is dit meer."
Sy het gevra dat die saak dringend aandag kry en dat die owerhede ingryp. As hulle nie hulp wil verskaf nie, sal vrywilligers van die Vriende van die Tolhuis self inspring en begin skoonmaak. Wanneer sy in die gebied kom, tel sy self van die rommel op. Dit lyk ook of van die bestaande kliprommelhouers nie skoongehou word nie.
Sy het gesê dit is 'n geskiedkundige pas. Dit moet in stand gehou en bewaar word.
Prof. Francois Hanekom, wat betrokke is by 'n inisiatief om sake- en toerisme-geleenthede te probeer bevorder, het gesê hy is bewus van die probleem van rommelstrooi en vandalisme. Dit sluit in die beskadiging van die ou historiese klipmuur.
Hy het voor die inperking met die owerhede kontak gemaak, maar as gevolg van die huidige situasie nog nie terugvoering ontvang nie. Hy het ook aan die betrokke Wes-Kaapse ministers geskryf en daarop gewys dat dit 'n historiese bate is wat nie beskadig mag word nie.
Hy is ten gunste van toegangsbeheer om die probleem op te los. Geen reservaat het vrye toegang nie.
Volgens hom lyk dit of die ongeërgdheid van mense tydens die inperking toegeneem het.
Munisipaliteit antwoord
Chantel Edwards-Klose, kommunikasiebestuurder van die George-munisipaliteit het die klagte na die Garden Route-distriksmunisipaliteit verwys. Volgens haar is hulle verantwoordelik vir die pas. Die publiek word gevra om die onwettige storting onder die aandag van die reinigings (Cleansing) departement te bring. Hulle kan gekontak word by 044 802 2900. Onwettige storting is een van die munisipaliteit se grootste uitdagings. Dit is gevaarlik en hou 'n gesondheidsgevaar in.
As iemand sien dat goed onwettig gestort word kan hulle 044 801 6350 kontak of sprins@george.gov.za.
Volgens Herman Pieters, senior kommunikasiebeampte van die distriksmunisipaliteit, kry die aangeleentheid aandag.
IN SHORT
Illegal dumping in one of South Africa's most historic passes, the Montagu Pass just outside George, has been increasing in past weeks. Dumping occurs near the road and in the area of the Old Toll House. Complaints have also been received of vandalism. Garden Route District Municipality, that is responsible for the area, has indicated that the matter is receiving attention.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'