Young, wat saam met sy eggenote, Gerty, entrepreneurs by uitstek was, het die laaste jare by sy seun, Robert (jnr) op die plaas Uitspan gewoon nadat hy sy sig verloor het.
Die Youngs het geboer en verskeie sakebedrywighede gehad waartydens hulle met die doyens van George se sakewêreld skouers geskuur het. Hulle het 'n belangrike bydrae gemaak tot die sake-fondasies waarop George se ekonomie vandag stewig staan.
Young het op Skimmelkrans naby Heroldsbaai tot middel 70's hoofsaaklik met skape, beeste, groente en koring geboer. Daar was ook altyd 'n verskeidenheid pluimvee op die werf wat vir eiers en vleis gesorg het.
Hy het ook sand aan bouers verkoop wat 'n verdere inkomste lewer het. Sy seun, Randolph, vertel dat hy nog goed kan onthou dat Edgars (destyds Checkers) een van die geboue was wat van die einste sand gebou is.
"Dit was een van die eerste groot winkelsentrums wat hulle in die 60's in George gevestig het. So is ook die persele van Woolworths en OK asook baie ander besighede in die ou sakekern van sy sand gebou."
Terwyl Young geboer het, het sy eggenote in die Young's Fruit Shop in Hiberniastraat die leisels gehou. Desember vakansies was hul ou Amerikaanse Jeep 'n bekende gesig op Heroldsbaai waar hulle vrugte en groente aan die kampeerders verkoop het.
Buiten Young's Fruit Shop het die Youngs ook nog 'n kafee bedryf. Vandag bestaan die gebou egter lank nie meer nie, maar 'n foto van die Young's Kafee hang in die George-museum.
In daardie jare was daar nog nie supermarkte in George nie en die Coke-fabriek nog in Heatherlands geleë waar die ou lughawe was. Die botteleerders van Coke het die Youngs by verskeie geleenthede vereer as die besigheid wat die meeste Coke in George verkoop het.
Randolph onthou ook nog hoe sy pa wors en polonies by Polly van Rensburg se slaghuis in Albertstraat aangekoop het. Hy het vis by Klein se Viswinkel en groente by James Stander, wat nou bekend staan as Golden Harvest, gekoop.
"My pa het in daardie jare nog beeste vanaf Skimmelkrans na die vendusie-krale aangejaag wat geleë was waar die Ford-agentskap nou handel dryf. Ek onthou hoedat ons vroeg-oggend die vee langs Hoopstraat na die krale gejaag het. Die honde het dan aan die onderpunt van Hoopstraat tot by die vendusiekrale begin blaf.
"Die afslaer by die vendusie was ook 'n ou bekende en familielid, Chris Heunis, wat la-ter minister in die NP-regering geword.
"My pa het ook gereeld die geoeste koring na ons huis in Hiberniastraat aangery en daar op die sementoprit uitgestrooi om te droog. Dit het altyd mense se aandag getrek en dan het hulle gevra wat op aarde is dit. Sy antwoord was dat dit die brood is wat hulle elke dag eet".
Robert Young was 'n bron van kennis oor die ou geskiedenis van George. Hy het die depressiejare geken, die Tweede Wêreldoorlog beleef en het hope legendes van George geken.
So was daar die Jode wat destyds volop in George was. Daar was die Jood Solly Hill se Hillstar Bakkery waar die Loerie-sentrum vandag staan. Dan was daar ook Job Stores wat min of meer was waar Edgars vandag is.
Met hierdie mense het Robert Young almal as sakeman skouer geskuur, maar deur die jare nederig gebly en was die toonbeeld van hardwerkendheid.
Behalwe sy weduwee laat Robert Young ook drie kinders, Randolph, Robert (jnr) en Monica agter asook sy skoonkinders Erika, Christa en Morkel asook die kleinkinders Liezel, Monique, Chriszelda, Roelien, Nicole en Debbie. Daar is een agterkleinkind, Christian.

Die ou gebou op die hoek van Meade- en Markstraat waar Young's Kafee gehuisves was.