Dit was die reaksie van mev. Luxmi Govender (82) nadat sy die afgelope naweek "deur hel is" op haar reis na Kaapstad op busse van SA Roadlink.
Govender was van Oos-Londen na Kaapstad onderweg nadat sy by haar seun gekuier het.
Sy sê behalwe vir al die ongerief wat sy en die ander 69 passasiers vir twee dae op onderskeidelik twee busse moes verduur het, het sy byna twee ure gewag vir die bus in Oos-Londen.
Hulle is die eerste keer kort na middernag in Knysna afgetrek omdat die bus nie die nodige permitte gehad het om op die betrokke roete te ry nie.
Volgens die passasiers kon hulle nie eers die toilet op die bus in Knysna gebruik nie omdat dit vol bagasie gepak was.
Eers is taxi’s ontbied wat die passasiers op pad na Kaapstad tot in Mosselbaai sou neem. Ná ‘n dispuut, vermoedelik oor geld, het die plan nie gerealiseer nie en is die passasiers gevra om uit die taxi’s te klim en moes almal wag vir ‘n tweede bus.
"Al ons bagasie was reeds in die taxi’s oorgelaai. Dit was baie deurmekaar. Ek is ‘n 82-jarige vrou met ‘n hartkwaal - ek het nie lus om so te reis nie," vertel Govender.
Toe die tweede bus arriveer, het al 70 passasiers ingeklim vir die tog na Kaapstad, maar verkeersowerhede het hulle weer by Klein-Brakrivier afgetrek.
Nie net was die bus se voorbande gedaan nie - sy voorruit was gekraak en daar was probleme met sy veringstelsel.
Govender sê daar was egter verskeie silwer randjies om die donker wolk, soos die ander passasiers wat mooi na haar omgesien het. En dan was daar die goedhartigheid van raadslid Iona Kritzinger, wat haar oor die passasiers ontferm het. Kritzinger het met behulp van mnr. Les Dyason van Gateway Lodge 70 worsrolletjies en vrugtesap onder die passasiers uitgedeel.
"Ek wou seker maak dat hierdie mense op die bus weet ons hier in George gee om en staan nie onsimpatiek teenoor hul ongerief nie. Ek is baie bly dat ek vir hulle iets geneem het om te eet. Ek kon nie glo dat die busmaatskappy so gevoelloos optree nie - eintlik meer onmenslik as enige iets anders. SA Roadlink was nie eers bereid om vir die mense gratis water te verskaf nie," het Kritzinger gesê.
Volgens Govender kon hulle nie kos en koffie koop nie omdat baie van die plekke gesluit was of hulle nie geweet het waar om te gaan koop nie.
Nadat die voorbande vervang is, het die bus ná 16:00 uit George vertrek. Dit is later weer by Grabouw afgetrek omdat dit vermoedelik oorlaai was.
‘n Paar passasiers het in Grabouw afge-klim en die bus het sy reis na Kaapstad voortgesit. Volgens die tye op die buskaartjies moes die passasiers op 9 Desember om 07:30 in Kaapstad arriveer. Hulle het eers na middernag daar aangekom.
Govender sê sy wou aanvanklik nie met SA Roadlink ry nie omdat hulle so ’n slegte reputasie het, maar sy het nie ‘n ander keuse gehad nie want al die ander busdienste was vol bespreek. "Ek sal nooit ooit weer van die busdiens gebruik maak nie."
Geen kommentaar
SA Roadlink is om kommentaar genader, maar geen reaksie is teen saktyd ontvang nie.

Mev. Iona Kritzinger gesels met ‘n paar van die ontstelde passasiers.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA