GEORGE NUUS - Die deurdringende reën wat van verlede Woensdag tot Dinsdag vandeesweek uitgesak het, het nie net die Tuinroete-damvlak van *65,4% tot 91,56% laat klim nie, maar vir boere in die George-omgewing was dit 'n absolute uitkoms.
George Kuyler van Skimmelkrans-melkboerdery buite George het teen Dinsdag tussen 90 mm en 110 mm oor die lengte en breedte van die plaas gemeet.
"Die laaste keer dat ons so 'n volume reën op een slag gekry het, was in 2014. Ons riviere het stilgestaan, maar ewe skielik is daar baie hoop. Die Gwaiingrivier loop so sterk dat ons op die oomblik sukkel om na van ons damme toe te pomp, maar ons sal seker teen Dinsdagmiddag twee pompstasies kan aanskakel. Op al die lande is die waterstatus herstel en is die bo-, middel- en ondergrond vir die eerste keer in 'n baie lang tyd nat."
Hy sê hulle het die laaste paar maande begin sukkel met die opbou van soute in die grond, maar die reën het dit nou redelik uitgewas.
Die George-munisipaliteit het teen Woensdagoggend 158,3 mm by die waterwerke gemeet. Oral in George se omgewing bruis die riviere. SANParke het die Touwriviermonding Sondagmiddag om 14:00 oopgestoot. Volgens Nandi Mgwadlamba, kommunikasiebestuurder vir die Tuinroete Nasionale Park, is 62 mm in Wilderness na die naweek gemeet. Verder oos by Farleigh Platboskop in die opvangsgebied is 122,6 mm teen Maandag gemeet. Swartvlei se monding was ook oop en het in die begin van die week nog sterk gevloei, het sy gesê.
Stoetbeesboer Leon van Rooyen van die plaas Boschrug by Geelhoutboom sê George se boere het nog nooit die probleem gehad van beeste wat weens droogte vrek nie. "In die 22 jaar dat ek hier bly, het hierdie area my nog nooit in die steek gelaat nie. 'n Mens glo altyd dat die reën sal kom, en dan kom dit. Hierdie keer het dit egter swaar gegaan, maar ons het uitgehou en dit het tog gekom. Ek dink die grootste skade in ons omgewing is maar op die mielies. Die strook hier teen die berg waar ons lê is uniek en ek het genoeg water gehad om die mielies die heeltyd nat te spuit, maar die hitte was eenvoudig net te erg en dit het die besproeiing ook gewen. Ek het bemes vir 70 ton per hektaar en ek weet nie of ek 30 ton per hektaar gaan afhaal nie."
'Moed om aan te gaan'
Andrew Moolman van Groot-Brak Avo's het gesê boere in die omgewing is baie verlig. "Baie mense was nie bewus van hoe erg dit vir boere was nie. Dit was 'n ware groen droogte. Nou het baie weer die moed om aan te gaan. Die damme is nog nie heeltemal vol nie, maar ons is dankbaar."
Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, het in 'n verklaring gesê die reën het oor groot dele van die provinsie verligting gebring, veral in die Suid-Kaap. Die Buffeljagsdam by Swellendam loop oor en riviere by Herbertsdale loop vir die eerste keer in jare.
"Die Gouritzrivier het ook gedeeltelik begin loop na goeie reën in die Albertinia-omgewing. Die totale Breederivier-/Riviersonderend-sisteem het baie water gekry. Die droogte in 'n groot gebied oos van die Hottentots-Hollandberge tot by Plettenbergbaai is so te sê gebreek."
Hy het gesê dit sluit nie Oudtshoorn, Calitzdorp, Montagu, Barrydale en die Klein- en Sentraal-Karoogebiede in nie. Opvolgreën is hier nog krities nodig.
* Die departement van waterwese moet die dam nog herkalibreer om die verhoging van die damwal in berekening te bring. Tot dan is die lesings gebaseer op die ou damwalhoogte.
Die George-munisipaliteit het hierdie foto verskaf van die watervlak wat op Maandag 20 Januarie geneem is.
Die Silwerrivier het Sondag sterk geloop. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'