GEORGE NUUS - Die onlangse goeie reën het die grondwaterbronne in die gebied goed aangevul, sê dr. Esmé Spicer, 'n geoloog van George. Vrae het na die reën ontstaan oor watter voordeel die landbou getrek het uit die deurdringende reën wat 'n paar dae aanmekaar geval het.
Volgens Spicer word die waterdraende rotse (aquifers) aangevul deur die goeie reën en die oppervlakwater beweeg deur lae, krake en verskuiwings af in die rotse en word dan as grondwater geberg.
Grondwater kan oor 'n tyd onttrek word vir landboutoepassings uit boorgate wat in die waterdraers ingesink word. Hoe beter die aanvulling deur reënwater, hoe beter is die waterkwaliteit soos soute uitgespoel word uit verweerde sones.
Dis 'n redelike groot probleem in die boorgate in die omgewing.
Sy sê dit is belangrik om te kyk na die geologie van die gebied en watter tipe rotse teenwoordig is om die grondwater te kan stoor. Sandstene is goeie waterdraers, graniete (Maalgate-graniete) en skalies (soos in ons Kaaimans-groep) is nie sulke goeie waterdraers nie, maar kan water blokkeer en kanaliseer deur krake en verskuiwings na laerliggende dele, waar dit ook onttrek kan word as dit opgedam word.
Sy is betrokke by projekte wat verband hou met waterontdekkings in die landbou tot by Beaufort-Wes en Willowmore.
Daar moet in gedagte gehou word dat George op 'n granietblok geleë is, met 'n goeie grondprofiel op die hoërliggende dele vir boerderypraktyke. "Die steil Kaaimanspas af na Wilderness gaan deur die Kaaimans-groep rotse wat opgemaak word uit bietjie sandstene en baie skalie, skiste en klei.
"Ry mens teen die pas uit is dit hoofsaaklik oor die Tafelberg-sandsteen en bietjie Bokkeveld-skalie oor na die Langkloof se oppervlak sedimente en sandstene. Die Wilderness-duine en rivier sedimente is jonk en dan by Flatrock en Gerickespunt is fossielduine met kruisgelaagdheid sigbaar bo teen die kranse.
"Die huidige reën mag wel goed wees vir ons grondwaterbronne se aanvul en waterkwaliteit, maar is aan die ander kant die vyand van geboue in die omgewing. Goeie dreinering en vogwering is baie belangrik in ons klam omgewing."
Dr. Esmé Spicer, geoloog van George. Foto: Eugene Gunning
Boere
George Kuyler, melkboer in die gebied, stem saam dat die reënval gehelp het om die grondwaterbronne aan te vul. Daar moet wel in gedagte gehou word dat daar min varswater grondwaterbronne in die streek is. Met die reën is die grondprofiel aangevul.
Die reën het ook gehelp om die soute in die grond uit te was. Jannie Stander, groenteboer van George, sê die reën het wel die ondergrondse waterbronne aangevul, maar was egter nog te min.
"Ons kort ten minste tussen 200 en 300 mm reën om die ondergrondwaterbronne aan te vul en die binneplase (dit is plase naby die riviere) se damme aan te vul."
Volgens hom is die water tot die beskikking van die binneplase ook van swak gehalte as gevolg van soute en metale.
In reaction to questions about the value of the recent rainfall for agriculture, George geologist Dr Esmé Spicer said it has increased the groundwater reserves and improved water quality.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'