Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Van Suid-Afrika se bekendste sportsterre het hulle gewig agter die George Tens Sport & Lifestyle Festival ingegooi wat op 2 Desember begin.
Van die sportsterre sluit in Paul Treu, Anton Leonard, John Smit, Victor Matfield, Philip Snyman, Abe de Villiers en Ernie Els. Van hulle sal die geleentheid bywoon.
Heyneke Meyer, voormalige afrigter van die Springbokke is een van die mede-organiseerders.
Die George-munisipaliteit en verskeie ander maatskappye is ook betrokke.
Dit word van 2 tot 5 Desember op Outeniquapark en omliggende gebiede aangebied. Die internasionale sewesrugbytoernooi is in die verlede in George aangebied en sedertdien was daar nog nooit weer 'n sportgeleentheid van die omvang in George nie.
Dit skop op 2 Desember af met gholf. Meyer, bygestaan deur Ig van der Merwe, een van die dryfkragte agter die geleentheid en 'n mede-organiseerder asook Dirk Wessels van die George-stadsraad het Dinsdag met George Herald gepraat oor die voorbereidings.
Familiegeleentheid
Benewens 10's rugby sal mense ook kan deelneem aan gholf, netbal, rolbal, bergfiestry en veldwedlope.
Meyer het benadruk dis 'n sport en leefstylfees vir die gemeenskap en kan 'n groot ekonomiese inspuiting vir George beteken.
"Terwyl pa gholf speel, kan ma netbal speel. Kinders sal ook kan deelneem aan byvoorbeeld veldloop en fietsry. Daar is ook 'n kinderarea."
Meyer was al by soortgelyke toernooie in die buiteland betrokke.
"Wat die toernooi uniek maak is dat dit hier gaan oor families. Dit maak byvoorbeeld voorsiening vir seuns en dogters laerskole rugby, vrouerugby, rugby vir jong mans en ook rugby vir mense ouer as 35 jaar." Tot dusver het 20 vrouespanne al vir die rugby ingeskryf. Deelnemers kom van oor die land.
Video: Sporttoernooi vind plaas
Toeskouers
As gevolg van die Covid-19-regulasies sal toeskouergetalle vanjaar beperk word, maar daar word gehoop dit sal in die toekoms kan uitbrei tot tussen 15 000 en 20 000 toeskouers.
Toe Meyer destyds die afrigter van die SWD Arende was en die span sukses behaal het, was Outeniquapark volgepak. Hy hoop dieselfde gebeur weer.
Daar sal ook teruggeploeg word in die gemeenskap en twee rugbyafrigtingsklinieke word beplan. Benewens die sport word musiekkonserte en vermaak aangebied.
Heyneke Meyer (links) mede-organiseerder, Dirk Wessels, lid van die George-stadsraad en Ig van der Merwe, mede-organiseerder. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'