GEORGE NUUS - Na 'n afwesigheid van meer as twee jaar, gaan rolstoele se speke weer op 15 Oktober sing.
Reëlings vir vanjaar se Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) het reeds in alle erns begin. Dit is laas in Februarie 2020 gehou, kort voor die begin van die Covid-19-pandemie.
Die reëlingskomitee vir vanjaar se geleentheid het verlede Donderdag, 23 Junie, die eerste keer vergader.
Die OCC vind onder die vaandel van die Disabled Road Race Foundation plaas. Die plan was om dit in September of Oktober verlede jaar te hou, maar Covid-19 het die plan gekelder.
Dit is toe tot Maart vanjaar uitgestel, maar moes ongelukkig weer uitgestel word hoofsaaklik as gevolg van die beperkinge op getalle vir buiteluggeleenthede.
Talle uitdagings
Tydens Donderdag se vergadering het Alewijn Dippenaar, geleentheidsdirekteur, 'n oorsig gegee van gebeure die afgelope tyd en ook oor die pad vorentoe. Dit blyk daar is talle uitdagings waaronder finansies en die finalisering van die roete.
Dit het onlangs juis aan die lig gekom dat padwerke in Yorkstraat gaan plaasvind. Dippenaar is egter vol moed dat dit nie in die pad sal staan nie en dat die geleentheid sal voortgaan.
Vanjaar se geleentheid sal net soos in 2020 weer by die Carpe Diem skool plaasvind. Na verwagting sal tussen 600 en 800 atlete van oor Suid-Afrika en ook Ghana, Zimbabwe en Namibië deelneem.
Die byeenkoms is baie gewild en help gewoonlik die plaaslike ekonomie. Daar word intussen ook voortgegaan om nog borgskappe te vind.
Verblyf is 'n bietjie van 'n uitdaging en van die deelnemers sal nie net in George tuisgaan nie, maar ook moontlik op ander plekke soos Oudtshoorn, Knysna en Mosselbaai.
Hoë brandstofpryse kan ook 'n rol speel omdat van die deelnemers ver moet reis. In die stadium is dit moontlik dat sommige deelnemers van KwaZulu-Natal nie sal deelneem as gevolg van die reiskoste.
Gholfdag
Voldoende fondse is wel beskikbaar om die geleentheid aan te bied, maar die organiseerders benodig nog sowat R100 000 om maaltye aan die deelnemers die dag voor en die dag van die geleentheid te verskaf.
Om fondse in te samel vir die geleentheid word 'n gholfdag in Augustus by die Kingswood-gholfbaan beplan. Vir diegene wat nie gholf speel nie, sal daar 'n pretloop wees. Formele registrasie sal op die Vrydag voor die geleentheid plaasvind en voornemende deelnemers kan reeds aanlyn inskryf. Tot dusver is sowat 200 inskrywings ontvang.
Vrywilligers
Dippenaar het benadruk dat vrywilligers se hulp benodig word. Sonder hulle hulp kan die geleentheid nie suksesvol aangebied word nie. Vrywilligers kan op die dag dienspunte beman en ook help om atlete in die pretgedeelte in hul rolstoele tot by die wenpaal te stoot.
'n Nuwigheid wat vir vanjaar beplan word is 'n klein sporttoernooi die Saterdagmiddag na die geleentheid. Atlete sal informeel aan verskillende sportkodes kan deelneem.
Dippenaar het Maandag gesê die opheffing van Covid-19- regulasies help beslis.
Mense wat belangstel om as vrywilligers te help, kan Alewijn Dippenaar kontak by 082 457 5675.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'