GEORGE NUUS - Reeds in Junie vanjaar is gewaarsku dat as nie opgetree word nie, wag nog 'n brandramp. Dit was tydens 'n geleentheid wat onder die vaandel van die Suid-Kaapse grondienaars (SCLI) gehou is 'n jaar na die brande op 7 Junie 2017 in Knysna.
Tydens die geleentheid in Knysna is onder meer gewaarsku dat grondienaars self verantwoordelikheid moet aanvaar vir die uitroei en vernietiging van indringerplante op hul grond.
In die brande verlede jaar, is 22 000 ha vernietig, terwyl in die jongste brande meer as 90 000 ha in die slag gebly het.
Cobus Meiring, voorsitter van die SCLI, het by navraag gesê die organisasie staan steeds by die waarskuwing dat nog 'n brandramp kan voorkom. "Die waarskuwingstekens was toe (Junie 2018) reeds daar dat nog 'n ramp kan plaasvind. Dit voel vir my of ons in die Tuinroete van een ramp na die volgende beweeg. Ons doen nie genoeg om ons voor te berei vir rampe nie. Dit is jammer dat daar so vinnig nog so 'n ramp was. Die landskap waarin ons leef is ongenaakbaar. Ons leef in 'n gevaarsone."
Volgens Meiring moet weer gekyk word hoe planne gemaak word. Die mense wat betrokke is by brandbestrydingsplanne moet pro-aktief wees."
* Die jongste brande en die brande verlede jaar, is nie die eerste keer dat so-iets voorgekom het nie. Emsie Martin skryf in haar boek, Riversdal en sy Mense Volume 2 dat een van die grootste rampe van die vorige eeu die Kaapkolonie in 1869, 149 jaar gelede getref het.
Hierdie groot brand het op 'n droë, bergwinddag op 9 Februarie 1869 naby Knysna begin. Die wind het skielik sterker geword en die brand het blitsvinnig versprei. Omdat die wind elke keer vanuit 'n ander rigting gekom het, het die brand in alle rigtings versprei.
Feitlik alle omliggende plase het in die slag gebly, en by baie plekke het die eienaars slegs ontkom deur in die damme of riviere in te vlug. Honderde skape, bokke en wilde diere is doodgebrand. Die hele Tsitsikamma tot byna by Uitenhage het gebrand. Die brand het oor die berg tot by Oudtshoorn versprei en al in die berge langs tot by Swellendam. By Riversdal het die brand op 'n breë front aangekom, maar skielik weggeskram na die berg toe.
Die kaptein van 'n skip ter see het vertel hoe 40 myl kuslyn gelyktydig gebrand het, terwyl talle vlugtende voëls en selfs insekte op sy boot toegesak het om skuiling te soek. Feitlik alle telegraafverbindings is verbreek deurdat die pale afgebrand het. Geel- en stinkhoutbosse in die berge is totaal vernietig. (South Western Echo 19/02/1949)
Gedurende Julie 1999, 130 jaar later woed daar ‘n reusebrand te midde van sterk windtoestande. ‘n Groot deel berggrond vanaf die ou FM-toring tot verby die Korrenterivierdam by Riversdal is in puin gelê. Daar is toe vermoedelik ‘n skatting van 1 000 ha gemaak.
Gedurende Augustus 2001 word berig van weerlig wat 'n vuur begin het wat gou onder beheer gebring is. Van die dennebome het steeds gesmeul en met die ontsettende sterk wind het die vuur weer opgevlam en van Oudebos oor Plattekloof tot Gysmanshoek-pas sy eie weg gevind.
'n Boervrou moes toekyk hoe die rooi gevaar al nader aan haar huis kom en boere moes toesien hoe hul drade vernietig word en hul beangste diere vlug voor 'n vlammesee. Die brand naby Garciabos by Riversdal gedurende Februarie 2003 was die moeilikste nog wat bestry moes word. Twee Oryx-helikopters en een Alluette van Ysterplaat-lugmagbasis het gehelp met die bestryding.
Die koste het sowat R50 000 per uur beloop. Later is twee vastevlerk 'crop dusters' en een vastevlerk 'spotter' ook gebruik. Niemand is beseer nie net die skuur op Cornel van Vuuren se plaas is beskadig. Op die plaas Windhoek is 500 ha van die 650 ha fynbos verwoes.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'