"Raak betrokke, raak betrokke, raak betrokke! Misdaad raak almal en die enigste manier waarop ons die stryd gaan wen is as ons saamstaan," het Plato aan die George Herald gesê.
Hy het gesê inwoners moet aansluit by die Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) en buurtwagte in hul woonbuurte. Strate waar misdadigers maak en breek soos hulle wil, moet hulle terugeis want die polisie kan dit nie alleen doen nie.
Volgens Plato beweeg die groot dwelmbase van Kaapstad nou uit na die Suid-Kaap en hulle gee nie om aan wie hulle dwelms verkoop nie, al is dit ook kinders. Dit gaan vir hulle slegs oor hoeveel geld hulle maak.
Plato het Woensdagaand 'n openbare vergadering by die Conville-gemeenskapsaal gehou waar hy verskeie inwoners se klagtes aangehoor het.
Die gemeenskap het verskeie klagtes gehad oor die swak dienslewering deur die Conville-polisiestasie.
Die klagtes sluit in traagheid wanneer beamptes klagtes bywoon, voertuie wat nie altyd beskikbaar is nie, terwyl polisievoer-tuie voor skole en banke in die middedorp opgemerk word wanneer die beamptes dit na bewering vir persoonlike doeleindes gebruik.
Mnr. Charlie Daman van Pacaltsdorp het die polisie egter geloof vir hulle harde werk en gesê die Departement van Justisie is die sondebokke wanneer dit kom by die vervolging van misdadigers.
"Die polisie doen die werk, ondersoek die sake en wanneer die sake voor die aanklaers kom word die sake teruggetrek of uitgegooi," het Daman gesê.
Ene Mnr. Business (63) van Sandkraalweg het gekla hoe hulle snags nie kan slaap met die geraas in die pad nie.
"Die straat is besig, die mense baklei en die plek (Lawaaikamp) is vuil van die dwelms," het Business gesê. Die dwelm-smouse gebruik jong kinders om die dwelms, veral tik, vir hulle te verkoop. Die gebied word ook geteister deur inbrake deur verslaafdes om hulle verslawing te voed.
Plato het op sy twee dae lange besoek aan George ook met die bevelvoerders van polisiekantore vergader.
Volgens die polisie speel drank in die meeste misdrywe 'n rol, veral in kontakmisdrywe soos aanranding gewoon, ernstige aanrandings, verkragting en moord.
Kolonel Clive Kaptein, streekbevelvoerder van sigbare polisiëring, het by die vergadering ‘n uiteensetting gegee van watter tipe misdaad in watter areas die hoogste is.
In George is dit inbrake by wonings en besighede, diefstal uit motorvoertuie en aanrandings (gewoon en ernstig).
In Conville is dit aanrandings, rooftogte, huisbrake en diefstal. Die gelisensieerde en ongelisensieerde tavernes dra by tot die meeste van die misdaad.
In Pacaltsdorp is die prentjie in ‘n mindere mate dieselfde en is daar selfs misdaad by die nuwe uitbreiding, Erf 325.
Verkragtings en rooftogte is Thembalethu se groot kopseer en ook hier speel drank en dwelms ‘n beduidende rol. Die huiswinkels van buitelanders word ook deur misdadigers geteiken.
George se werkloosheidsyfer, wat hoër as 40% is, wek verder groot kommer omdat dit bydra tot ander misdrywe soos inbrake, diefstalle en rooftogte.
Kaptein het ‘n beroep op die publiek gedoen om polisiemanne wat nie hul werk doen nie te rapporteer; so ook mense wat smokkel met drank en dwelms.
Plato het gesê hy sal binnekort met sy kollega, mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse Minister van Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, in gesprek tree oor die implementering van die provinsiale drankwet.
Minister Plato het ook komberse aan Huis Outeniekwa, ’n plek van veiligheid vir minderjariges, oorhandig.

Die Wes-Kaapse Minister van Gemeenskapsveiligheid, mnr. Dan Plato het verlede week nuwe reën- en glimbaadjies aan buurtwaglede van Conville oorhandig. Van links: mnr. W Lekay, kol. M Murray, mnr. J Afrika, Minister Plato, kol. C Kaptein en mnr. D Maritz, onderburgemeester van George.
FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS