GEORGE NUUS - Inwoners van Annandale-woonstelle in Morrisstraat, agter die George-polisiekantoor, is raadop met die gemors wat daagliks deur haweloses op die perseel rondom die woonstelblok agtergelaat word.
Hierdie area is welbekend vir die informele bewoners wat snags daar slaap.
Menslike afval is 'n algemene gesig agter die transformator wat die area met elektrisiteit bedien. Wasgoed word soms in die straat drooggemaak en soggens vroeg lê rye slapende haweloses onder komberse en ander isolasie-materiaal wanneer inwoners van die woonstelle kinders by die skool gaan aflaai of werk toe ry.
"Die laaste drie aande het daar gemiddeld agt mense hier oorkant Annandale geslaap, vuurgemaak en die muur en die area om die kragboks as toilet gebruik," het een inwoner verlede Donderdag, 29 Julie, laat weet.
Tydens 'n besoek deur munisipale amptenare omstreeks 16:25 op Maandag 2 Augustus, was daar geen hawelose persone op die perseel nie. Die foto is verskaf deur George-munisipaliteit.
Daaglikse inspeksies
Munisipale mediaskakelbeampte, Debra Sauer, het by navraag gesê dat daaglikse inspeksies deur die munisipaliteit se eenheid teen grondbesetting in Morrisstraat gedoen word.
"Die amptenare besoek die genoemde area soggens en saans en tree op as daar hawelose mense gevind word, maar ongelukkig keer die persone weer terug sodra die amptenare hul rug draai," het sy gesê.
"Ons amptenare het Maandag 2 Augustus omstreeks 16:25 die gebied besoek. Daar was nie hawelose persone op die perseel nie."
Ofskoon George-munisipaliteit gereeld hierdie area skoonmaak, bly dit eenvoudig 'n steen des aanstoots. Die foto is op 29 Julie deur 'n inwoner geneem.
Volgens Sauer is die gebied op die munisipaliteit se prioriteitslys en uitdagings rakende die hawelose mense word deurentyd aangespreek. "Kennis moet geneem word dat hierdie persone in terme van wetgewing vryheid van beweging het en hulle mag nie deur wetstoepassingsbeamptes beperk word nie, behalwe as hulle 'n oortreding begaan, of in rampsituasies soos met die Covid-19-inperking," het Sauer gesê.
"Intussen is die afdeling verantwoordelik vir opruiming in kennis gestel van die gemors in Morrisstraat en sal dit so gou moontlik skoonmaak."
Indien mense vullis strooi of onwettig vullis stort kan die voorvalle by George-munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling aangemeld word by 044 801 6350. Selfoonfoto's van sulke voorvalle sal die ondersoeke help.
Die foto is 28 Julie deur 'n inwoner geneem.
Wasgoed droog oor 'n muur in die winterson. Die foto is op 5 Junie deur 'n inwoner geneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'