Nie net sal die pawiljoen 'n nuwe dak kry nie, maar opknappingswerk gaan ook gedoen word aan die opsigtershuis en die klubhuis. Die gebruik van die kleedkamers en ander vertrekke onder die pawiljoen word ook gemaksimaliseer.
Die opknappingswerk volg na Cope-raadslid, Wilbur Harris die dringendheid daarvan onder die burgemeester, Charles Standers se aandag gebring het. Harris het tydens die Januarie-raadsvergadering gevra wanneer die raad gaan aandag gee aan die Rosemoor-stadion se vervalle toestand. Harris het gesê dis 'n emotiewe aangeleentheid en die belang van die stadion vir die gemeenskap benadruk.
Standers het verlede Donderdag die amptelike sooispit gedoen. "Mag die Rosemoor-sportstadion die fakkeldraer van sportprestasie en sport-ontwikkeling in die breër George, en die SWD word," het hy aan die gaste tydens 'n burgemeestersfunksie na afloop van die sooispit gesê.
Die R3,1 miljoen wat bewillig is vir die bouwerk, is saamgestel uit R2,4 van die nasionale regering se munisipale infrastruktuur-fonds en R700 000 van die George-munisipaliteit.
Standers het gesê sport is 'n verenigende krag wat kulturele verskille kan oorbrug en as teenvoeter dien vir die vergryping van die jeug aan sosiale euwels. Standers het die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, dr. Ivan Meyer aangehaal: "Opvoeding sonder sport is onvoldoende en 'n lewe daarsonder is ongebalanseerd."
Hy het verder gesê: "Binne ons gemeenskappe is daar nog onontdekte en versteekte potensiaal wat tot volheid ontwikkel moet word. Dit is 'n taak wat alreeds op skoolvlak moet geskied en doen ek 'n beroep op ons skole om hieraan beslag te gee." Aan die gemeenskap het hy gesê: "Dit is u stadion, u sportvelde, u terrein en u arena waar toekomstige sportikone ontdek, geslyp en ontwikkel moet word."
Volgens Standers is die George-munisipaliteit in die proses om ontwikkelingsvoorstelle vir die Pacaltsdorp-streeksportkompleks te ondersoek.
* George's Executive Mayor, Mr Charles Standers performed the the sod turning ceremony last Friday, heralding the start of the R3,1-million Rosemoor stadium upgrade.

Cope-raadslid Wilbur Harris se druk op die George-stadsraad om die Rosemoor-sportstadion op te gradeer, het vrugte afgewerp.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'