TUINROETE | KAROO NUUS - Lede van die Tuinroete-blitspatrollie het Vrydag dwelms met ‘n straatwaarde van R24 000 op die N12 naby Oudtshoorn gekonfiskeer en ‘n 45-jarige man in hegtenis geneem.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisiebeamptes Vrydag 28 Julie strategies langs die N12 tussen George en Oudtshoorn ontplooi waar hulle 'n voertuigkontrolepunt opgerig het.
“Omstreeks 17:50 het die span 'n Toyota Avanza afgetrek vir roetine-ondersoek wat na Oudtshoorn onderweg was. Die polisielede het 'n stoorplek gevind waar 400 Mandrax-tablette in 'n sportsak weggesteek was wat aan een van die insittendes van die voertuig behoort het.”
Volgens Spies het die polisie die man in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms.
“Die verdagte bly in aanhouding. Hy sal na verwagting vandag sy eerste verskyning, op 'n aanklag van handel in dwelms in die Oudtshoorn-landdroshof maak.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’