Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - PW Botha Kollege se matrieks het wel gedaan deur 'n styging van 7,1% in die slaagsyfer te behaal vergeleke met 2018.
Die skoolhoof, Pieter Myburgh, is baie in sy skik. "Die slaagsyfer vir 2019 is 80,5%. Ek is baie tevrede met die uitslae en wil graag al die leerders en hul ouers gelukwens. Baie dankie aan die personeel en leerders vir volgehoue harde werk. Ek glo ons kan nog beter doen in 2020."
Die topleerders is Kholeka Nzima (eerste), Adriaan Everts (tweede), Ray Charne Vena (derde), Bucho Arries (vierde) en Nathan Janse van Rensburg (vyfde). Nzima het per telefoon gesê sy is oorweldig. "Ek het dit glad nie verwag nie. Ek is al van drieuur af wakker. My ouers is baie trots."
Sy het hard gewerk en is dankbaar vir die ondersteuning van 'n onderwyser wat haar geleer het om 'n balans te vind tussen haar sosiale lewe, sport en akademie. Sy het vir die skool se eerste netbal- en tennisspanne gespeel en was kaptein van beide spanne. Nzima gaan LLB aan die Universiteit van die Wes-Kaap studeer.
Kyk 'n video hieronder.
Moyra Titus was daar toe haar seun Jaden sy uitslae by PW Botha Kollege gaan haal het. Jaden gaan aan die Northlink Tegniese Kollege in Kaapstad studeer. Hy beoog 'n loopbaan as passer en draaier. "Ek is só trots op hom. In graad 11 was hy die beste in pas en draai en ek glo hy het die regte loopbaankeuse gemaak." Foto's: Alida de Beer
'n Baie tevrede skoolhoof, Pieter Myburgh, by drie van PW Botha se topmatriekpresteerders vir 2019, van links: Bucho Arries (vierde), Ray Charne Vena (derde) en Adriaan Everts (tweede). Die topleerder, Kholeka Nzima, was in Kwazulu-Natal toe die uitslae aangekondig is.
Sive Ntshinka kry haar uitslae by Johan Graaff. Sy was gelukkig met hoe sy gevaar het en beoog om konstruksiebestuur aan die CPUT (Cape Peninsula University of Technology) te studeer.
"My kind is deur! Ek is verskriklik trots," was Lynette Pretorius se reaksie toe haar dogter, Chantelle (middel), haar eksamenuitslae kry. Chantelle se vriendin, Elizna Oosthuizen, was ook in haar noppies met haar uitslae.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'