GEORGE NUUS - 'n Beroep op die privaat sektor in George en die Suid-Kaap om betrokke te raak by kragvoorsiening is deur dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHI en die George-sakekamer, gedoen.
Cilliers het laat verlede maand die vergadering in Kaapstad bygewoon waar die Wes-Kaapse regering, burgemeesters en die privaat sektor koppe bymekaar gesit het oor die krag situasie.
Die vergadering is ook deur André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, bygewoon. George-burgemeester, Leon van Wyk, was ook teenwoordig.
Volgens Cilliers was sy indruk dat daar kommer in die sakesektor is oor volhoubare kragverskaffing en die gepaardgaande uitdagings. Tydens die vergadering is onder meer gekyk na alternatiewe kragvoorsiening soos byvoorbeeld groenkrag.
Cilliers het Dinsdag 6 September gesê daar moet ernstig gekyk word na alternatiewe kragbronne. "Eskom alleen gaan nie die wa deur die drif trek nie."
Volgens hom moet die privaat sektor, privaat kragverskaffers word en ooreenkomste met munisipaliteite sluit. Daardie krag kan weer teruggeploeg word in die nasionale kragnetwerk.
'n Maatskappy kan ook aan 'n ander maatskappy krag verskaf deur gebruik te maak van die munisipale krag infrastruktuur.
Daar is dan drie vennote naamlik die twee maatskappye en die munisipaliteit.
"Dis duidelik dat die privaat sektor 'n rol sal moet speel om volhoubare kragvoorsiening te verseker. Krag speel 'n groot rol vir stabiliteit van die ekonomie wat natuurlik weer ekonomiese groei sal bewerkstellig."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'