GEORGE NUUS - Lede van die Conville-polisie en die publieke orde polisie (Pops) patroleer nou die strate van Conville en Maraiskamp nadat 'n bakleiery tussen verskeie groepe uit die twee areas vroeër vandag, Sondag 5 Januarie, uitgebreek het.
Daar word beweer dat die groepe mekaar, uit weerwraak, met skerp voorwerpe en pangas in die strate gejaag het.
Volgens kol. AB Kriga, die stasie-kommissaris van die Conville-polisie, het hulle tussen 12:00 en 17:00 sowat agt verdagtes in hegtenis geneem vir die besit van gevaarlike wapens.
Die verdagtes sal na verwagting more, 6 Januarie, in die Thembalethu-hof verskyn.
"Pops is nog in die area om 'n ogie oor die situasie te hou. Daar word beweer dat mense vroeër, dis onduidelik presies wanneer, beroof en aangerand was en dat die verdagtes nooit aangekeer is nie of moontlik deur die hof op waarskuwing vrygelaat is. Daar is gerugte dat die voorvalle van vandag moontlike wraakaanvalle kan wees. Niemand is egter volgens inligting beseer nie en geen sake is by ons aangemeld nie. Ons ondersoek tans alle moontlikhede en die beweringe. Ons het oor die feestyd goeie arrestasies gemaak en baie verdagtes asook gesoekte persone aangekeer. Ons probeer nou vasstel of daar nog enige uitstaande arrestasies is op sake wat deur die twee groepe gemaak is wat vandag baklei het," sê Kriga.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'