GEORGE NUUS - Vir lede van die George-polisie, familie en vriende van sers. Gladstone Schaap, het sy onlangse dood as groot skok gekom en teen Woensdagoggend het medelye steeds op Facebook ingestroom.
Besonderhede rondom sy dood is steeds onduidelik, maar volgens gerugte het Schaap verdrink toe hy en 'n paar vriende by die Bloudam net buite George, gaan swem het.
Schaap het terwyl hy geswem het, onder die water verdwyn en niemand kon daarin slaag om hom betyds te red nie.
Hy het sy 12-jaar polisie loopbaan in 2009 begin by die Kwanonqaba-polisie op Mosselbaai waarna hy in 2015 na George oorgeplaas is. Schaap het in 2011 'n konstabel geword en vroeër die jaar 'n sersant.
In 2012 verwerf hy 'n Sokkerwêreldbeker ondersteuningsmedalje en in 2019 word hy vereer met sy 10-jaar medalje vir getroue diens.
'n Verbyrygedenkdiens word vanaand, Donderdag 25 November omstreeks 18:00, by sy huis in Bhadi Close in Thembalethu gehou. Sy familie kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.
Vermiste swemmer se liggaam gevind
Intussen is die liggaam van die vermiste swemmer, Luvuyo Xoli (34) wat Saterdag 13 November in Heroldsbaai verdrink het, gevind.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is Xoli se liggaam Donder-dagoggend 18 November omstreeks 08:15 deur 'n verbyganger op die strand by Kleinkrantz gevind.
"Die liggaam van die oorledene het voldoen aan die beskrywing van die vermiste persoon wat onder die water by Heroldsbaai verdwyn het. Die oorledene is later as Luvuyo Xoli van Gqeberha geïdentifiseer," het hy gesê.
Die polisiebestuur bedank alle rolspelers vir hul ondersteuning met die soektog.Wilderness-NSRI het onverpoos na Xoli se liggaam gesoek. Foto: Henri Von Steen
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'