GEORGE NUUS - Conville-polisie het 'n groot terugslag gely toe 'n getroue lid, sers. Calvin Beukes (53) dood in sy huis aangetref is. Beukes se kollegas het glo onraad vermoed toe hy nie by die werk opgedaag het nie.
Hulle het hom Woensdag 8 November kort voor 18:00 in sy huis aangetref.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, moet die nadoodse ondersoek nog die oorsaak van Beukes se dood bepaal.
"'n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die saak word nog ondersoek. 'n Nadoodse ondersoek is verlede Vrydag gedoen om die oorsaak van dood te bepaal. Die uitslag vorm deel van die voortgesette polisieondersoek," sê Spies.
Beukes laat sy twee kinders agter.
'n Gedenkdiens word vandag, Donderdag 16 November, om 12:00 by die AFG Kerk op die hoek van Parish- en Setlaarstraat, Parkdene, gehou. Sy begrafnis vind Sondag om 13:00 plaas by die Congregational Church in Kerkstraat, Pacaltsdorp.
Volgens Conville se stasiebevelvoerder, lt.kol. AB Kriga, was Beukes 'n offisier by uitstek en het altyd sy beste gegee by die werk. "Hy was 'n betroubare lid wat baie vir die stasie beteken het. Hy was bedagsaam en vriendelik en het altyd die ekstra myl gestap. Ek en sy kollegas gaan hom baie mis. Hy los 'n groot leemte," het Kriga gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’