GEORGE NUUS - 'n Polisiebeampte van Ladismith, wat op rusdae by sy huis in George was, is Vrydagnag, 2 Junie, ernstig aangerand tydens 'n bakleiery by Border Pub in Heatherweg, Pacaltsdorp.
Volgens die beampte was hy en drie van sy neefs Vrydagaand uit voordat hy die volgende dag weer moes terugkeer na Ladismith.
"Daar was 'n argument binne die kroeg en ek het tussenbeide getree. Die sekerheidswagte het daarna die moeilikheidmakers die gebou belet. Kort daarna, op pad huis toe, het hulle my ingewag. Toe ek my voete by die deur uitsit, toe steek een my bo my linkeroog," vertel hy.
Sy neefs het daarna by die bakleiery betrokke geraak. Een het 'n steekwond aan sy gesig opgedoen en die ander 'n snymerk.
Was dit nie vir een van sy neefs wat saam met hom daar was nie, kon die situasie dalk anders uitgedraai het. "Die mes het in my kop vasgesit en my een neef het my met die mes nog in my kop, na Mediclinic George gejaag," vertel hy. "Hy wou nie nog wag vir 'n ambulans nie."
'n Noodoperasie is kort daarna op hom uitgevoer. "Nog 'n paar sentimeters en ek was dood of blind," vertel hy.
Hy is intussen ontslaan en herstel tuis.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, en die vermoede bestaan dat die verdagtes bendelede vanuit die Kaap is. Dit kon egter nie bevestig word nie.
"Ek wil graag net dankie sê vir dr. Bezuidenhout en sy span in die hospitaal. Hulle is fantasties en ek is hulle ewig dankbaar."
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het die voorval bevestig.
"'n Polisiebeampte wat die afgelope naweek van diens af was, is in Pacaltsdorp aangerand. Hy het kopbeserings opgedoen en is by 'n hospitaal in George opgeneem. Hy is gister [Dinsdag] ontslaan. 'n Saak van poging tot moord word ondersoek," het Spies gesê.
GPF kap terug
Voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiërings-forum (GPF), Charly Daman, sê dit is vir hom teleur-stellend dat toegangsbeheer by nagklubs, kroeë en sulke tipe plekke nie strenger is nie.
Om sulke voorvalle te verhoed moet die sekuriteit opgeskerp word. Ons gaan beslis meer hierop fokus, sê Daman.
Hy sê verder is dit betreurenswaardig dat selfs polisiebeamptes deesdae in die openbaar aangeval word. "Ongeag waar dit is, dit [Border Pub] is 'n gelisensieerde plek waar mense veronderstel is om te ontspan en veilig te voel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’