GEORGE NUUS - Twee verdagte mans het glo Dinsdagaand, 11 Oktober, te voet gevlug ná 'n voorval by 'n kroeg in Yorkstraat waar vuurwapens glo op die personeel gerig is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, word 'n saak van die rig van 'n vuurwapen deur George-polisie ondersoek na aanleiding van dié voorval.
"Voorlopige inligting dui daarop dat twee onbekende bruin mans die kroeg in Yorkstraat binnegegaan het. Volgens die personeel het die verdagtes verdag voorgekom en is hulle gevra om die perseel te verlaat," sê Pojie.
Die verdagtes het glo daarna vuurwapens uitgepluk en dit op die personeel gerig.
"Geen aanvraag vir geld is gemaak nie en die verdagtes het ook niks van die personeel of kliënte in die kroeg geneem nie. Hulle het te voet gevlug," sê Pojie.
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die George-speurkantoor by 044 803 4715 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'