GEORGE NUUS - Ses mense tussen die ouderdomme van 21 en 45 is Saterdag 9 April in die Pacaltsdorp-omgewing in hegtenis geneem op aanklagte van onwettige dwelmhandel, die besit van gevaarlike wapens en die onwettige besit van dwelms soos tik en Mandrax.
Dit volg ná die Pacaltsdorp-polisie se misdaadvoorkomingseenheid die strate van Edenpark, Rosedale, Syferfontein en New Dawnpark ingevaar het. Al dié gebiede is berug vir gesinsgeweld en dwelmverwante voorvalle.
Al die verdagtes is in aanhouding en was geskeduleer om Maandag 11 April in die George-landdroshof verskyn. Teen druktyd was daar nog geen besonderhede rondom die hofverskynings nie.
In Friemersheim, Groot-Brakrivier, het die polisie op 24 vyfliter-bokse wyn en 26 kratte bier van 'n verdagte (61) beslaggelê. Die verdagte is in hegtenis geneem en later vrygelaat op 'n dagvaarding om 'n skulderkenningsboete te betaal. Hy sal op 'n later datum in die hof verskyn.
Altesaam 340 verdagtes is tussen Donderdag 7 April en Sondag 10 April in die Eden-distrik in hegtenis geneem.
Die naweek se operasies het hoë-sigbaarheid blouligpatrollies in mis-daadgeteisterde gebiede, stop-en-soek-operasies met 'n spesiale fokus op dwelm- en drankafsetpunte, onwettige vuurwapens, die opsporing van gesoekte verdagtes en die konfiskering van gevaarlike wapens ingesluit.
Waarnemende Eden-gebiedsbevel-voerder, brig. Belinda Pather, het die lede geprys vir hul toewyding om gemeenskappe binne hul area te beskerm.
Polisie het op heelwat onwettige alkohol beslaggelê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'