GEORGE NUUS - Die onlangse toename in arrestasies wat verband hou met onwettige wapens en ammunisie is 'n resultaat van verskeie misdaadsbekampingsoperasies wat in misdaadgeteisterde gebiede deur die polisie uitgevoer word.
Só sê Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies.
"Die polisie het onlangs verskillende operasies aangepak om die verspreiding van onwettige vuurwapens en ammunisie in die Wes-Kaap uit te roei.
Hierdie operasies het positiewe resultate opgelewer en dit het uiteindelik gelei tot die beslaglegging op 'n aantal onwettige vuurwapens in die provinsie sowel as die Suid-Kaap, in besonder die Eden-polisiëringsgebied wat George, Knysna, Plettenbergbaai, Mosselbaai en Oudtshoorn insluit," sê Spies.
In die mees onlangse voorval Saterdag is 'n 20-jarige man tydens 'n operasie vir die besit van 'n vermeende onwettige vuurwapen en ammunisie, in hegtenis geneem. Dit volg na die polisie 'n lasbrief bekom het op grond van 'n wenk uit die gemeenskap en op die verdagte se huis in Kapokblomstraat, Le Vallia, toegeslaan het.
''Die lede het die perseel deursoek en op die wapen, asook ammunisie, in 'n swart drasak wat in die verdagte se besit was, afgekom. Die verdagte het egter oproerig geraak en moes beteuel word. Hy is daarna in hegtenis geneem en die vuurwapen en ammunisie is gekonfiskeer," het Spies gesê.
Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit tydens enige ander misdade gebruik is.
Die verdagte staan tereg op aanklag van die besit van 'n onwettige vuurwapen en ammunisie.
Die wapen wat deur die polisie in Le Vallia gekonfiskeer is. Dié is een van talle onwettige wapens waarop daar tydens onlangse misdaadbekampingsoperasies beslag gelê is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'