GEORGE NUUS - Daar is 'n verduideliking vir die 'geheimsinnige' groen plantbedekking op die Tuinroetedam by George wat inwoners aan die praat het.
Dit is salvinia molesta, ook bekend as kariba-onkruid of watervaring en dit hou nie 'n gevaar vir watervoorsiening in nie. Die Tuinroetedam is George se vernaamste waterbron.
Die omliggende gebiede by die dam is op die oomblik baie gewild want verskeie mense gaan oefen elke oggend tussen 06:00 en 09:00 daar.
Lesers van George Herald het hul kommer oor die aangeleentheid uitgespreek en op sosiale webtuistes het dit gegons. Een inwoner het gevra dat dit dadelik ondersoek word omdat dit blykbaar die afgelope paar dae toegeneem het.
Kommer is ook uitgespreek dat dit moontlik waterhiasinte kan wees wat in die verlede al groot probleme op die Hartbeespoortdam naby Johannesburg en Pretoria veroorsaak het.
George Herald het 'n foto aan die munisipaliteit beskikbaar gestel. George-munisipaliteit se superintendent parke en rekreasie, Priscilla Burgoyne, het bevestig dat die plantegroei op die foto salvinia molesta, ook bekend as kariba-onkruid of watervaring is. Sy het benadruk dat dit nie waterhiasinte is nie.
Volgens haar is salvinia molesta 'n kategorie 1b-indringerplant wat reeds sedert 2012 in klein hoeveelhede op die Tuinroetedam voorkom. Dit word van tyd-tot-tyd behandel soos wat dit nodig is.
"Die plante word hoofsaaklik deur watervoëls ingebring as daar klein stukkies aan hulle pote vassit of deur saadpropagules, en floreer wanneer fosfaatvlakke in water styg, wat onder andere met landbou en ander praktyke verband kan hou.
"Kariba-onkruid hou nie gevaar vir watervoorsiening in nie. Die department is in die proses om 'n spesialis aan te stel om die huidige plaat wat naby die damwal groei so gou moontlik te behandel."
IN SHORT - The plant material in the water of the Garden Route Dam near George that had many residents worried, does not pose a threat to water supply. Several residents expressed concern about the matter. It is salvinia molesta, commonly known as giant salvinia, or kariba weed. George Municipality is appointing a specialist to eliminate the growth as soon as possible.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'