GEORGE NUUS - 'n Voormalige inwoner en sakeman van George, Frederick Greyling, alias Frik Strauss, het op Dinsdag 7 September in die spesialishof vir handelsmisdaad in Bellville verskyn.
Hy staar 20 aanklagte van bedrog, oortreding van die bankwet en 'n klag van geldwassery in die gesig. Die saak is tot 12 Oktober uitgestel sodat hy met sy nuwe regsverteenwoordiger kan konsulteer.
Volgens woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Eric Ntabazalila, is Greyling na bewering sedert September 2004 aan die hoof van 'n Ponzi-skema, A Million Up Financing (Pty) Ltd. Meer as R10 miljoen is betrokke.
Baie van sy slagoffers was ook van George.
Greyling sou na bewering fondse van die publiek versoek met die idee dat die kapitaal in vee en ander sakeondernemings belê sou word.
Die NVG het gesê Greyling het beleggers rente teen meer as 10% per maand, of teen 'n koers wat veel hoër is as die huidige rentekoerse, aangebied. Die opbrengs hiervan sou aan beleggers betaal word uit geld uit hul eie beleggings asook beleggings deur ander.
Ntabazalila het verduidelik dat 'n Ponzi-skema verskil van 'n piramideskema deurdat die opbrengs nie afhanklik is van enige ander ingryping deur die beleggers nie, byvoorbeeld deur ander beleggers te werf om aan so 'n skema deel te neem nie.
Met Greyling se rentekoerse het sommige slagoffers glo veelvuldige deposito's gemaak om hul totale te verhoog.
Nuwe deposito's het glo in 2008 afgeneem en die skema het in duie gestort waarna daar geen geld was om beleggers hul geld terug te betaal nie. Volgens die staat het Greyling altesame R11 345 955 van beleggers wat geïdentifiseer kon word, ontvang.
In 2014 is 'n lasbrief vir Greyling se arrestasie uitgereik, maar dit is uitgestel nadat 'n mediese sertifikaat wat daarop gedui het dat hy behandel word vir 'n psigiatriese toestand, voorgelê is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'