GEORGE NUUS - 'n Prokureur van George, Clayton Samson, wat daagliks in howe in die Suid-Kaap gesien is terwyl hy talle kriminele sake aanpak, sit nou met 'n tameletjie van sy eie.
Samson word van 39 aanklagte van bedrog aangekla nadat hy glo geld na sy privaat rekeninge oorgeplaas het wat veronderstel was om in die bankrekening van die prokureursfirma vir wie hy destyds gewerk het, inbetaal te word.
Hy is tans uit op waarskuwing ná hy in die George-handelsmisdaadhof verskyn het. Samson het gister, 4 Oktober, in die hof in Kaapstad verskyn waar sy saak aangehoor word.
Samson het vanaf Februarie 2012 tot 27 Oktober 2015 as 'n prokureur by A Chimes & Van Wyk Ingelyf gewerk.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Samson vyf bankrekeninge by verskillende banke gehad.
Die staat voer aan dat die regsfirma geld, wat hy namens sy kliënte ingevorder het, in die bankrekening van die maatskappy gedeponeer het.
Samson het glo aan die direkteur van die prokureursfirma gesê dat die bankrekeningnommer van die kliënt verander het en het een van sy eie bankrekeningnommers as die nuwe bankrekening van die maatskappy verskaf.
"Meer as 16 betalings van altesaam meer as R62 000 is tussen 1 November 2014 en 1 Julie 2015 uit die Trustrekening van A Chimes & Van Wyk Ingelyf in sy bank gemaak, sonder enige magtiging of toestemming om dit te doen," het Ntabazalila gesê.
"Samson het ook vir die prokureursfirma se kliënte gelitigeer. Hy het toe vir hulle fakture gestuur met sy bankrekening-nommer in plaas van die regsfirma s'n. Tussen 5 November 2014 en 25 September 2015 het die prokureursfirma se kliënte geld in twee van sy vyf bankrekeninge gedeponeer, altesaam meer as R43 000."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’