TUINROETE NUUS - Boere op ‘n 106-hektaar plaas in Sinksabrug het groot skade ná ‘n veldbrand vroeër vandag.
Volgens inligting het die veldbrand op ‘n naburige eiendom waar ‘n informele nedersetting is, ontstaan.
Volgens die eienaar van die plaas, Joyce Venter, was haar man en seun tuis ten tye van die brand en het hulle onverpoosd saam met brandbestryders gewerk om die vlamme te blus.
“Al ons weiding het afgebrand. Ons het een kamp oor. My man het gelukkig daarin geslaag om die diere betyds te red. Ons is droogtehulp geweier. Ons het onlangs damme gemaak, wat ook tot niet is in die brand.”
Venter sê dis nou die tweede keer dat dit op hulle plaas brand.
Sy staan verstom oor die hoeveelheid mense wat hulle te hulp gesnel het tydens vandag se brand.
Enige hulp vir voer of water vir hulle diere sal verwelkom word. Daar is 80 beeste, 47 skape en ‘n perd op die plaas. Kontak Joyce Venter (073 337 1362).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'