Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As jy gedink het jy sien Pierre Spies, die bekende oud-Springbok in George, het jy reg gesien. Hy en sy gesin het in Desember na die Tuinroete verhuis.
Deesdae is hy leraar by die Christian Revival Church in George en is reeds voluit aan die werk.
Die 37-jarige Spies het tussen 2005 en 2017 sy merk op die rugbyveld gemaak. Hy het in 53 toetse die groen en goud gedra, in drie Curriebeker-eindstryde en in 119 super rugbywedstryde gespeel.
Sy oorlede pa was ook 'n baie goeie rugbyspeler en atleet.
Spies het Maandag met George Herald van die dinge gedeel wat al op sy lewenspad gekom het. In 2017 het sy rugbyloopbaan in Frankryk klaargemaak en hy het daarna die bediening betree.
Hy is al jare in die kerk betrokke, maar hy het nooit gedink hy sal eendag as pastoor dien nie. Hy het reeds op die ouderdom van 20 jaar 'n wedergebore Christen geword.
VIDEO: Kyk wie is in George
Die afgelope paar jaar het hy teologie studeer en 'n BA graad in teologie verwerf. Hy het ook sy internskap voltooi om 'n pastoor te kan wees. CRC George, 'n multi-kulturele kerk, is sy eerste gemeente.
Pastoor At Boshoff van CRC het 'n groot invloed op sy lewe gehad. In George volg hy in die voetspore van pastoor Naas Vermaak wat na Namibië is. "Ons gaan nou hier voort met die wonderlike werk wat hy gedoen het."
Spies het benadruk die werk wat hy doen kan mens nie doen as jy nie geroep is daarvoor nie.
"Ek is geroep om ons wêreld en die Tuinroete te verander. Ons gaan ons deel doen. Die realiteit is jy moet mense haak. Jy moet hulle haak aan die Here.
"Dit gaan nie oor my nie. Ek wil hê mense moet hierheen kom. Hulle gaan die Here hier ontmoet."
Spies beskryf homself as iemand wat baie lief is vir mense. "Ek hou van mense en lewe vir my doel. Ek is lief vir die Here."
Ondanks sy groot sukses op die rugbyveld mis hy dit nie. Dit was 'n goeie tyd in sy lewe, maar hy kry vervulling in wat hy nou doen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'