Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Meer as 1 100 inwoners van Rosedale in Pacaltsdorp het 'n petisie onderteken waarin hulle vra vir 'n skool en kliniek in hulle woongebied.
"Ons het genoeg inwoners om te kwalifiseer vir hierdie fasiliteite. Terwyl daar in Thembalethu al talle skole en klinieke is en nog in aanbou is, moet ons mense hier swaarkry," sê Clara Afrika, 'n plaaslike kampvegter.
Die George Herald het vroeër berig dat die Wes-Kaapse departement van onderwys beplan om eers oor ongeveer agt jaar - tussen 2025 en 2027 - 'n laerskool in Rosedale te bou.
Provinsiale gesondheid het ook aangedui dat die woongebied nie binne die afsienbare toekoms 'n eie kliniek sal kry, of kwalifiseer vir 'n mobiele kliniek nie. Die 5 km-afstand van Rosedale tot by die kliniek val binne die norm en daar word Maandae 'n buitekliniek in Rosedale aangebied. Uitbreiding en opknapping van die Pacaltsdorp-kliniek behoort egter vanjaar te begin.
Afrika was nie tevrede met die antwoorde nie en het met 'n petisielys by inwoners omgegaan. Dit is intussen afgelewer by die plaaslike kantore van die twee departemente. "Hulle het dit in 'n baie positiewe gees ontvang en belowe dat ons sake aandag kry."
Sy sê dit is veral vir bejaardes moeilik om by die kliniek te kom. Die meeste bejaardes kan nie busgeld bekostig nie. Daar is bejaardes in rolstoele. Die feit dat daar Maandae 'n buitekliniek in Rosedale aangebied word, is nie genoeg nie. Met noodgevalle is bejaardes steeds blootgestel.
Afrika sê hulle wil graag 'n skool in hul midde hê, want ouers voel ongemaklik oor hul jong kinders wat per bus skool toe moet ry. Ander kruis die besige Beachweg om die naaste laerskool, Dellvillepark, te bereik. "Ons sal net baie meer gerus voel as ons kinders hier in ons midde kan skoolgaan."
Kyk 'n video hieronder.
'n Klompie bejaardes van Rosedale wat voel dat die munisipale geboutjie agter hulle, wat naby die ingang van die buurt geleë is, die ideale ligging het vir 'n kliniek. Die gesondheidsdepartment sê egter die Pacaltsdorp-kliniek word uitgebrei en daar gaan nie nog 'n kliniek in Rosedale gebou word nie. Foto: Alida de Beer
'Onderwys onder druk weens migrasie'
Paddy Atwell, direkteur van kommunikasie by die Wes-Kaapse departement van onderwys, het by navraag gesê hulle sal poog om die gemeenskap tegemoet te kom, maar dit hang af van die beskikbare begroting en prioriteite regoor die provinsie.
"Die onderwysstelsel in die Wes-Kaap is onder aansienlike druk weens die voortdurende migrasie uit ander provinsies. George, en veral Thembalethu, is een van die gebiede wat onder druk verkeer.
"Ons kan nie waarborg dat ons die planne vir 'n nuwe skool vir Rosedale kan vervroeg nie. Ons neem kennis van die kommer oor die vervoer van leerders. Die departement stel hoë veiligheidstandaarde vir leerdervervoer wat gekontrakteer word. Dit oortref die normale verkeersregulasies. Ons doen 'n beroep op ouers om hul skoolhoof in te lig as hulle glo dat die vervoer nie op standaard is nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'