Video
TUINROETE | KAROO | HESSEQUA NUUS - Nooit ooit sou sy in haar grootwordjare kon dink dat sy by sulke geskiedkundige gebeure soos die studie van die Covid-19-virus betrokke sou wees nie.
"Veral nie as jy uit 'n gemeenskap kom waar die skool net tot by standerd 4 gaan nie," vertel dr. Florette Treurnicht, 'n boorling van Tergniet by Groot-Brakrivier.
Treurnicht is sedert Januarie 2019 die hoof van die departement mediese virologie van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste en die Universiteit van die Witwatersrand.
"Ek is in Tergniet gebore en het grootgeword op Toekoms se NG kerkterrein as die vierde jongste van 10 kinders." Sy was tot en met standerd 4 in Toekoms Primêr. "Daarna het ek van standerd 5 tot 7 saam met my broer en ander Tergniet-skoolmaats elke dag met die Sandhoogtepad langs na Groot-Brakrivier Primêr gestap."
Haar pos behels 'n gesamentlike akademiese aanstelling waar sy verantwoordelik is vir virologiese diagnostiese dienste vir die openbare gesondheidsektor, sowel as vir tersiêre onderrig in virologie. Sy meen die opleiding van toekomstige patoloë wat spesialiseer in virologie, is kernbelangrik.
'Toekoms'-drome
"Wat ek onthou van Tergniet is die veld, veral na die reën. En die see. Dit was 'n sterk gemeenskap. Selfs vandag nog is dit my huis, want my voorouers is in Toekoms begrawe."
Haar herinneringe is dié van landelike samesyn. "Ons het soveel oumas gehad. Speeltyd was ook tyd vir huishoudelike takies en spanwerk. Soos om dromme drinkwater in die Kong-kamp te gaan koop en dit dan huis toe te rol. Om hout in die veld te gaan haal. Om vriende te help om hul misvloere te polish en om saam met die anties by die Kong-kamp se dam te gaan wasgoed was."
Sy vertel dat haar belangstelling in geneeskunde begin het met die eerste hartoorplanting deur dr. Chris Barnard. "Ek het sy boek by die biblioteek uitgeneem."
Later jare, toe sy by die departement van mediese virologie by Tygerberg-hospitaal gewerk het, het sy dié pionier ontmoet. "Ek moes aan hom verduidelik wat transgeniese muise of diere is. Hy was besig met navorsing vir 'n nuwe boek."
'n Onderwyser op Groot-Brakrivier was ook 'n rigtingwyser op haar pad. "Die onderwyser wou weet wat ek wil doen en ek het gesê natuur- en skeikunde, wat my by Pacaltsdorp Sekondêr in George laat opeindig het."
Doelgerig
Sy wou graag aan Universiteit Stellenbosch (US) studeer. "Gedurende apartheid het net geselekteerde kursusse jou toegang gegee, maar ek was ook bewus dat my ouers nie my studies kon bekostig nie. My ma het vir my gesê om verpleging te probeer en as ek nie daarvan hou nie, dan kan ek gaan doen wat ek wil."
Sy het egter gou besef dis nie vir haar nie. In 1986 doen sy aansoek vir aptekerswese aan US, maar kry toelating vir 'n B-graad in wetenskappe. Dit voltooi sy met chemie en mikrobiologie as hoofvakke.
"Dit was die era toe biotegnologie net begin het. Plaaslik was dit omtrent uitsluitlik in mediese virologie gebruik om diagnostiese probleme rondom MIV/Vigs aan te spreek." Toe sy 'n advertensie sien om as mediese tegniese beampte in virologie in 'n laboratorium in Tygerberg te werk, gryp sy dit aan. In die tyd verwerf sy haar honneurs- en meestersgrade in virologie aan US. Sy doen hierna haar doktorale studie in virologie aan die Universiteit van Kaapstad.
Met 'n doktorsgraad agter haar naam, begin sy by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) in Johannesburg in die eenheid vir respiratoriese virusse werk. Later word sy direkteur van die Nasionale Influenzasentrum, soos erken deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).
Covid-19
Haar sleutelverantwoordelikhede wat Covid-19 behels is toetsing in Gauteng. "In een en 'n halwe maand het ons reeds meer as 20 000 toetse gedoen. Die wêreldwye tekort aan diagnostiese goedere is 'n groot uitdaging. As laboratorium moet ons dus soveel as moontlik verskillende toetse vir die nuwe virus beskikbaar hê. Ons moet ook baie innoverend wees sodat ons nie onnodige beperkings in ons vermoë om die toetse te doen ervaar nie."
Sy verduidelik hoe belangrik wye kommunikasie tussen medici tans is. Suid-Afrika het 'n WGO-kantoor en die WGO-verteenwoordiger werk nou saam met die Nasionale Departement van Gesondheid. "Die WGO het 'n databasis wat goed ontwerp is om data, insluitend genetiese data van griepvirusse te versamel Dit word aangewend om soortgelyke data van die virus te versamel. Dit is hierdie databasis wat navorsers kon gebruik om die molekulêre toetse te ontwikkel wat tans gebruik word."
Vertraag verspreiding
Soos ander medici, beaam Treurnicht dat die huidige voorsorgmaatreëls ten doel het om die blootstelling van Suid-Afrikaners aan die virus te vertraag. "Dit moet gedoen word sodat die gesondheidstelsel nie heeltemal in duie stort nie."
Hierdeur word laboratorium- en hospitaaldienste versterk. "As die piek ons tref kan ons die voordeel trek uit terapeutiese middels wat onder gereguleerde omstandighede getoets is."
Treurnicht herinner dat ouer persone meer vatbaar vir respiratoriese virusse is.
"Dit is belangrik dat hulle griepinspuitings neem, want die nuwe epidemie en ons griepseisoen gaan oorvleuel. Jy wil probeer om infeksie met meer as een respiratoriese virus te voorkom."
Sy gee praktiese raad. "Bly weg van plekke waar daar 'n samedromming van mense is. Ons persoonlike ruimte is nie meer onderhandelbaar nie. Dis ons reg en ons kan aandring daarop."
Dr. Florette Treurnicht, hoof van die departement mediese virologie van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste en die Universiteit van die Witwatersrand verduidelik die voordele daarvan om 'n masker op die korrekte manier te dra as beskerming teen die Covid-19-virus. Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'