Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die kinders van die Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum kon almal saam deel in die vreugde van die Bokke se oorwinning in die Rugbywêreldbekereindstryd danksy die organisasie Pay it Forward Random Stranger Assist (RSA) - People Helping People (PHP).
Pay it Forward RSA - PHP het vir Georgiet Pottie Potgieter genader om namens hulle op te tree en hy organiseer geleenthede om 'n bietjie omgee en vreugde aan ander te bring.
Hy het gereël dat Môreson se kinders die Wêreldbekereindstryd op 'n groot skerm kon kyk wat spesiaal vir die geleentheid in hulle saal opgestel is.
Elke kind het 'n masker met Springbok-kaptein Siya Kolisi se gesig op, plakkers, koeldrank, skyfies en 'n stokkielekker ontvang en hulle kon na hartelus geraas maak om die Bokke tydens die stryd aan te moedig.
Die kinders se geloof in die Bokke was so groot dat daar op die dag voor die eindstryd al 'n medalje gemaak is met die inskripsie, 'World Champions 2023'.
Die twee kinders wat die mooiste prent gemaak het in 'n kompetisie wat gehou is, het ook die naaste telling aan die eindtelling geraai, naamlik 15 - 12. Die twee het onderskeidelik die landsvlag en 'n Springbok geteken en die twee prente is in een prent gekombineer, wat vir die kompetisie ingeskryf is.
Potgieter het die borge en die drie meisies en leiers van Môreson, wat gehelp het om die geleentheid 'n sukses te maak, bedank. Die borge is die families Groenewald, De Jager, De Swardt, Pelser en Corrigan asook Postnet, Annie's One Stop Shop, Zeelie Taxis, Spar, Tiador 109 CC en Jetline.
"Pay it Forward se doel is om 'n verskil te maak in George en het al verskeie mense gehelp. Ons hoop van harte dié wat gehelp is, het op hulle beurt weer aan iemand anders hulp en goedheid versprei," sê Potgieter.
Pottie Potgieter, die woordvoerder vir Pay it Forward RSA - PHP.
VIDEO: Meer inligting oor Pay it Forward RSA - PHP is beskikbaar op die volgende video:
Die kinders met hulle maskers.
'n Groot skerm is opgestel waar die jongklomp die eindstryd kon kyk en vir hulle span skree.
Die twee kinders wie se prent die tekenkompetisie gewen het, se raaiskoot was ook die naaste aan die eindtelling.
Die medalje vir die Bokke is al voor die tyd gemaak, so sterk het die kinders geglo dat hulle span gaan wen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’