GEORGE NUUS - Moenie met vreemdelinge praat nie. Dis 'n oeroue reël en een waarmee elke kind grootgemaak moet word.
Dié kwessie van kinders wat met vreemdelinge gesels, en selfs eetgoed by hulle aankoop op straat, is weer benadruk ná twee 15-jarige meisies van Parkdene verlede week in die hospitaal beland het.
Volgens een van die dogters se ma, het haar dogter en 'n vriendin verlede Vrydagaand, 21 Oktober, onwetend muffins wat na bewering dagga bevat het, buite 'n winkel in die woonbuurt gekoop.
"Toe die kinders by die huis kom kon ek sien iets was nie reg nie. My dogter was heel onstabiel en gesê sy voel nie lekker nie. Haar vriendin het weer heeltemal die teenoorgestelde opgetree, maar ons kon sien iets was duidelik nie pluis nie en het hulle albei hospitaal toe geneem," vertel die ma.
By die hospitaal is urinetoetse gedoen wat dagga inname by die kinders bevestig het.
"Ek het hulle gevra wat hulle geëet het en dit was die muffins wat hulle by 'n man buite die winkel gekoop het. Kinders is maar erg oor 'n soetding," sê die ma.
Volgens die ouers het hul kinders nie geweet wat in die muffins was nie. "Ons wil net ander ouers waarsku. Dis nie meer veilig vir ons kinders daar buite nie en hulle moet dit weet. Moenie dat hulle met vreemdelinge praat nie en nóg minder, moenie dat hulle kos of enigiets van vreemdelinge langs die pad koop nie," maan die ma.
Die kinders is in die hospitaal behandel en daarna ontslaan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'