GEORGE NUUS - Onlangse klagtes en plasings op sosiale media oor roofvoorvalle in Nelson Mandela-boulevard wek kommer onder inwoners van George.
"Geagte Georgiete Staan Saam-lede. Net 'n vriendelike versoek, as julle by ‘n robot staan in Nelson Mandela-boulevard maak net seker julle vensters aan beide kante is toe. Ek het so pas gesien hoe twee [verdagtes] 'n motoris se foon gryp terwyl hulle by 'n rooi verkeerslig stilgehou het."
"Wees versigtig wanneer julle in Sandkraalweg (Nelson Mandela-boulevard) ry. Die jong klomp gryp blatant items vanuit motors. Ek het reeds twee noue ontkomings die week gehad," lui twee van vele plasings op Facebook.
Uit die plasings en klagtes wil dit voorkom asof daar 'n toename in diefstal vanuit voertuie in die gebied tussen die middedorp en die Thembalethu-brug voorkom.
Die beweerde rowers beweeg glo in groepe van twee of meer en terwyl een die bestuurder van 'n voertuig se aandag aftrek, pluk die ander die passasierskant se deur oop en gryp wat hulle kan.
Daar was ook blykbaar reeds gevalle waar motoriste met oop vensters in dié omgewing ry en hul selfone dan by rooi verkeersligte uit hul hande gegryp word.
Items word ook glo gereeld vanaf oop bakke van bakkies of vragmotors verwyder, asook wanneer kappies nie gesluit is nie.
By navraag het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, bevestig dat dié gebied tans 'n bron van kommer vir die polisie is, maar dat voorvalle selde aangemeld word. "Ons doen 'n beroep op slagoffers om voorvalle van diefstal of roof dadelik aan te meld. Sodoende kan ons die hulpbronne en personeel tot ons beskikking dadelik aktiveer en ontplooi waar dienste in terme van ons misdaadpatrone en -tendense die nodigste is," sê Pojie.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie.
Hy doen ook 'n beroep op padgebruikers en voetgangers om uiters versigtig en paraat te wees te alle tye, veral tye wanneer pendelaars na of van die werk reis of loop.
"Voorvalle waarvan ons wel bewus is, dui daarop dat motoriste soms nalatig is en met oop vensters, of -kappies of -bakke met waardevolle toerusting en goedere, in sig van verbygangers laat. Daar is ook voorvalle aangemeld waar persone met oop vensters op hul selfone praat en dan verras word deur misdadigers wat dit uit hul hande gryp."
Motoriste word gemaan om:
• Enige voorvalle by die naaste polisiestasie aan te meld;
• Te alle tye paraat te wees en op te let wat in hul omgewing plaasvind;
• Te alle tye deure en kappies gesluit te hou en waardevolle besittings in die kattebak of paneelkissie toe te sluit;
• Vensters van die voertuig asook die kappie toe te hou en eerder die lugversorging te gebruik;
• Alle waardevolle items buite sig van dié buite die voertuig te plaas.
IN SHORT
Motorists are warned to be vigilant and keep their doors and windows locked when driving down Nelson Mandela Boulevard. George Herald has received numerous complaints, and a number of posts regarding theft out of motor vehicles between the Thembalethu bridge and the CBD, have been posted on social media. It seems that there is a group of youngsters who target motorists waiting at red traffic lights. They allegedly either distract the driver and open the passenger door or they grab cellphones from people driving with open windows.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'