TUINROETE | KAROO NUUS - Die hele land is tans vasgevang in die gees van die rugbywêreldbeker.
Die meeste van ons wys ons lojaliteit en ondersteuning vir die Springbokke deur gereeld groen en goud te dra. Veral Vrydae en dae waarop die Springbokke 'n wedstryd speel is vele mense geklee in 'n Springboktrui.
Onlangs het ek ook probeer om 'n Springboktrui te koop, maar vinnig besef dat die truie so skaars soos die spreekwoordelike hoendertande is.
Die winkels wat dit gewoonlik verkoop meld dat hulle lankal uitverkoop is en dat hulle dalk nie weer gaan inkry voordat die wêreldbeker verby is nie.
Ek merk toe ook op dat al meer 'maatskappye' begin om Springboktruie aanlyn te adverteer op Facebook en ander sosiale media. Die meeste van hierdie aanbiedings lyk baie aanloklik, soos byvoorbeeld; '50% afslag', 'twee vir die prys van een', 'gratis aflewering', ensovoorts.
Ek begin toe 'n bestelling voltooi op een van hierdie aanlyn aanbiedings, maar gou kom ek agter dat die betaalstelsel afwyk van die normale en erkende derdeparty metodes van betaal en stop toe die bestelling net daar.
Na verdere ondersoek kom ek toe agter dat vele van hierdie aanlyn aanbiedings absolute kuberslenters is. Vele van die advertensies het spelfoute, of gebruik die advertensiemateriaal van ander erkende winkels, of hul betaalstelsels maak nie gebruik van erkende derdeparty betaalstelsels wat die norm is nie.
Dus, hierdie valse slentermaatskappye ontvang jou kredietkaartbesonderhede en wie weet waarvoor gebruik hulle dit daarna.
Normaalweg wanneer jy aanlyn betaal gaan jou kredietkaartbesonderhede na 'n betroubare derdeparty wat die kredietkaartinligting konfidensieel bewaar. Na verdere ondersoek vind ek toe vele klagtes word op sosiale media uitgespreek dat hulle nooit hul bestellings ontvang het nie, dat geen telefoonnavrae beantwoord word nie, ensovoorts.
SA Rugby het ook kennis geneem van hierdie slenters en 'n verklaring in hierdie verband gemaak. Hulle noem dat vele aanlyn winkels skielik adverteer dat hulle 'official' Springbok-handelsware verkoop, maar in werklikheid vals is.
Volgens SA Rugby is slegs die volgende amptelike verspreidingspunte vir ware Springbok-handelsware, ek haal aan van hul webwerf (www.springboks.rugby): "www.sarugbyshop.co.za, on the digital platforms of well-known retailers such as Sportsmans Warehouse, Totalsports and Studio88, and established online retailers such as www.superbalist.com".
So, wees gewaarsku, daardie Springboktrui wat bestel word by 'n ongemagtigde, of vals webwerf mag dalk nooit opdaag nie en die geld wat jy daarvoor betaal sal jy ook nie sommer terugkry nie. Koop maar liefs by die amptelike winkels of die aanlyn winkels soos deur SA Rugby genoem.
Maar, dit geld natuurlik vir enige aanlyn aankope. Maar eers seker van die wettigheid van die maatskappy deur te Google en te kyk watter kommentare word gegee omtrent die diens en kwaliteit van die betrokke maatskappy.
Mag die Bokke wen, of ek nou 'n Springboktrui aan het of nie!
Prof. Rossouw von Solms is 'n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’