GEORGE-NUUS - ‘n Egpaar van Mosselbaai het Sondag laatmiddag die skrik van hulle lewe gekry en moontlik die dood vrygespring toe stout kinders ‘n groot klip op hul motor gegooi het.
Mnr. Gastao de Nobrega en sy vrou Theresa was op die N2-snelweg in die rigting van Mosselbaai op pad toe ‘n groep jong kinders op die brug na die Garden Route Mall die klip gegooi het.
Volgens mev. De Nobrega het alles vinnig gebeur.
Die klip het die voorruit getref.
Sy sê hulle het omstreeks 17:20 van die Mall af gekom en het die kinders op die brug sien staan. Die kinders het daarna in die rigting van Thembalethu gehardloop.
"Dit het soos ‘n kanonskoot geklink, maar gelukkig het die ruit nie gebreek nie, anders kon my man dalk vandag dood gewees het," het sy Maandag aan die George Herald gesê.
Die egpaar sê hulle wil die publiek waarsku en is bekommerd dat ‘n herhaling van die voorval met erge gevolge tydens die wêreldbeker-toernooi kan plaasvind aangesien baie toeriste van die snelweg gebruik gaan maak.
Die De Nobregas het die voorval by die polisie aangemeld.
Kapt. Malcolm Pojie, die provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê persone wat hulle aan sulke optrede skuldig maak, kan aangekla word van opsetlike saakbeskadiging.
"Sou iemand in so voorval sterf, kan die skuldige aangekla word van strafbare manslag of moord, hetsy die erns van die voorval."
Hy het ‘n beroep op die publiek gedoen om sulke voorvalle te rapporteer sodat die polisie kan vasstel of daar enige tendense is en die oortreders aangekeer en gestraf kan word.
Die polisie het vandeesweek hul hoofwegpatrollie verskerp met die oog op die wêreldbekertoernooi en die veiligheid van die algemene publiek.
Artikel: Lizette da Silva