GEORGE NUUS - Vroue in Parkdene het ingespring en vir armes in veral die nabygeleë plakkerskampe, waar mense nog geen donasies ontvang het nie, begin kook.
Samuel Vorster, ‘n wyksraadslid hier, sê Veronica Pienaar kook kos uit haar eie kombuis. Hy sê "hulle kon nie net agteroor sit en wag nie".
"Daar moes 'n plan gemaak word. Dis dan al die derde week en nog nie een van die gesinne in die plakkerskamp hier naby het kospakkies gekry nie."
Volgens Vorster is Pienaar se kombuis nog nie geregistreer as 'n amptelike sopkombuis nie, maar sy het goedkeuring gekry om voort te gaan.
Hy sê die kosbank is deur PBI-raadslid Virgill Gericke, en ander weldoeners begin. Dit verskaf kos aan informele areas binne Parkdene en elders waar nood is. “Daar is nie baie voorraad nie. Die eerste twee dae is kos aan 244 volwassenes en kinders gegee. Ons het dringend nog voorraad nodig.”
Daar is reeds etlike sopkombuise in Parkdene, maar volgens Vorster kan hulle nie almal bedien nie. “Dis hoekom mense soos Veronica besluit het om self kos te maak.”
Pienaar word bygestaan deur Janine Williams en Amalia Averies. Hulle het Dinsdag weer aan sowat 200 mense kos voorsien.
Amalia Averies, Sabiena Laws, Veronica Pienaar en Janine Williams help om hulle gemeenskap te voed in dié swaar tye.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'