GEORGE NUUS - Parkdene Sekondêr is een van vyf skole in die Wes-Kaap wat 'n toekenning ontvang het vir die grootste verbetering in die matriekslaagsyfer van 2019 tot 2021.
Verlede jaar se slaagsyfer van 84,6% was 14,2% hoër as in 2020 en 21,7% hoër vergeleke met 2019.
Dit het nie sonder toewyding en harde werk gekom nie, sê skoolhoof, Derick Petersen. "Ons is in ekstase, maar ons moet onthou dat ons dit nou moet handhaaf. Ek is uiters trots op ons matrikulante."
Uit die 127 matrikulante het 52 universiteitsvrystelling gekry.
Dit het naweke se werk en baie ekstra klasse gekos. Petersen sê hulle was verlede jaar op hul hoede ná die Covid-pandemie veroorsaak het dat baie klasure verloor is. Omdat die leerders nie die luukse van aanlynstudie gehad het nie, het die skool in 2021 besluit om ekstra klasse aan te bied.
Die matrieks het selfs Saterdagoggende en elke dag in die Septembervakansie klasse bygewoon. Ondersteuning van buurskole se opvoeders is ook ingeroep.
"Ook die vakadviseurs het hand bygesit deur lesse aan te bied en hulpmiddels te verskaf sodat ons afrolwerk en fotokopiëring kon doen. Hulle het verder bydraes gegee sodat daar iets te ete kon wees vir die kinders wat Saterdagoggende klas bygewoon het."
Volgens Petersen het leerders die ekstra klasse aangegryp en almal het dit bygewoon.
"Ek is uiters trots op die leerders se toewyding en geweldig dankbaar teenoor almal wat ingespring en gehelp het. Die matrieks het in agt vakke 'n 100% slaagsyfer behaal."
Hy sê hulle het die toekenning glad nie verwag nie. "Hierdie posisie het ons weer blootgestel aan die omgewing van toppresteerders en dit het weereens bewys dat harde werk beloning bring. Deur so mooi te werk het ons matrieks ons skool se beeld bevorder."
Parkdene Sekondêr se toekenning vir die beste verbetering in die matriekslaagsyfer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'