GEORGE NUUS - Leergebinde eksemplare van 'n voormalige glanstydskrif, Suid-Afrikaanse Panorama, word nou bewaar by die ou tolhuis in die historiese Montagupas. Dit is daar beskikbaar vir enigiemand wat dit net wil deurblaai of kultuurhistoriese navorsing wil doen.
Die tydskrif is in 'n stadium deur die destydse Departement van Inligting in die Staatsdiens uitgegee. Dit is gesien as deel van pogings om Suid-Afrika se beeld te bou en het baie aandag getrek vir die goeie gehalte foto's.
Altesaam 10 leergebinde bundels tydskrifte van 1976 tot in die 90's is Vrydag 22 April deur Elmine Vorster van die George-biblioteek aan Gerda Stols van die Vriende van die Tolhuis oorhandig. Die skenking het op Internasionale Boekedag plaasgevind wat elke jaar op 23 April gevier word.
Dit was die 25ste Internasionale Boekedag en die tema vanjaar was: "You are a reader".
Die tydskrifte was in die besit van 'n egpaar wat 'n plek van veilige bewaring gesoek het. Stols is genader en sy het ingestem om dit by die tolhuis te bewaar. Stols het gesê sy neem graag die tydskrifte in ontvangs.
"Daar is 'n spesiale plek in die tolhuis. Ons beplan om 'n leeshoekie by die tolhuis te vestig. Mense is welkom om dit kom lees."
Elmine Vorster (regs) van die George-biblioteek oorhandig een van die leergebinde bundels aan Gerda Stols van die Vriende van die Tolhuis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'