Update
GEORGE NUUS - Na die artikel 'Inwoners keer vir swak padwerke' op bladsy 14 van 16 Julie se uitgawe van George Herald, waar inwoners van Pacaltsdorp kla oor "swak werk" wat aan die pad gedoen is, voel die ingenieursmaatskappy betrokke, die stellings laat hulle in 'n swak lig.
Robbie Zamudio, die direkteur van Henra, die maatskappy ter sprake, sê daar was nie genoeg tegniese insae in die berig om die klagtes te regverdig nie.
Zamudio het gevra vir die insae van die George-munisipaliteit asook Willem Annandale van SMEC Suid-Afrika, wat die raadgewende ingenieurs op die projek was.
Chantel Edwards-Klose, die hoof van kommunikasie by die George-munisipaliteit, sê die werk aan die pad is dieselfde dag voltooi. Sy sê daar is ook inspeksies gedoen en daar is gevind dat die werk bevredigend en volgens die spesifikasie herstel is, dus was geen addisionele herstelwerk nodig nie.
Annandale op sy beurt sê SMEC is deur George-munisipaliteit aangestel as raadgewende ingenieur op die projek en tree op as die munisipaliteit se agent.
"As sulks moet enige navrae in hierdie verband aan die munisipaliteit gerig word."
Annandale het wel bevestig dat daar geen asfalt oor mangate geplaas is nie, en ook dat die onderhoudswerk wat gedoen is, nie die dreinering van die pad sal beïnvloed nie.
Henra het ook bevestig dat die werk volgens die kontrak en spesifikasies uitgevoer is.
Van die inwoners wat gekla het oor die padwerke saam met raadslid Virgill Gericke (heel links). REGS: Die pad na die werk voltooi is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'