GEORGE NUUS - Die Eden-distrikskantoor van die Wes-Kaapse departement van onderwys het aansoek gedoen vir die sluiting van Hoërskool Pacaltsdorp môre, Vrydag 25 Junie, sodat die skool ontsmet kan word nadat Covid-1- gevalle onder leerders en onderwysers aangemeld is.
Volgens die departementele kommunikasiehoof, Bronagh Hammond, het die skool twee onderwysers aangemeld wat positief getoets het. Ses onderwysers is ook in isolasie nadat hulle in noue kontak was met ander positiewe persone.
In reaksie op bewerings dat sommige matriekleerders vanoggend (Donderdag 24 Junie) buite die skoolhek gestaan en geweier het om die gronde te betree weens bewerings dat al die Covid-19-protokolle nie gehandhaaf word nie, het Bronagh gesê die skool het al die regte prosedures en protokolle gevolg.
Die prinsipaal van die skool, Clifton Titus, het aan George Herald gesê hy is nie gemagtig om met die media te praat nie.
In 'n brief wat vandag aan ouers op die skool se Facebook-blad gerig is, sê Titus twee leerders het positief getoets en 10 is in isolasie nadat hulle in direkte kontak met positiewe familielede was. Hy het die ernstigheid van die derde Covid-19-golf beklemtoon.
"Die gevalle van direkte kontak met mense wat positief is, neem toe. Ons wil u vra dat u u kinders by die huis hou oor naweke, want meer leerders by omliggende skole toets nou positief," sê hy in die brief.
Hy sê verder dat die virus nou op kinders toeslaan, want hulle dra nie maskers nie, handhaaf nie sosiale afstand nie, was of ontsmet nie hulle hande nie, en hulle "hang aan mekaar en so kan die lys aangaan".
Hy doen 'n beroep op almal om die verspreiding van Covid-19 te stop deur die reëls te gehoorsaam.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'